Oor ons

wie is maroela media?

Maroela Media het in Augustus 2011 tot stand gekom as ʼn onpartydige, selfstandige mediahuis.

Maroela Media is ʼn Afrikaanse mediahuis, wat daarna streef om die Afrikaanse gemeenskap te bedien met goeie gehalte, betroubare en gebalanseerde nuus en ander inhoud. Maroela Media is nie net die grootste Afrikaanse digitale platform nie, maar is ook die grootste Afrikaanse mediagemeenskap van alle mediaformate – digitaal, koerante, tydskrifte, televisie en radio ingesluit. Maroela het tans gemiddeld 2 miljoen unieke lesers per maand, en sowat 47 miljoen bladsye word elke maand op Maroela Media se webwerf en app gelees.

Maroela Media publiseer nuus en inligting oor ʼn groot verskeidenheid inligting wat relevant is vir die Afrikaanssprekende se leefwêreld. Inhoud is daarop gemik om lesers in te lig, te vermaak en hulle te laat deel voel van ʼn digitale Afrikaanse gemeenskap waar Afrikaanssprekendes van reg oor die wêreld welkom is en tuis voel. Maroela Media het ʼn sterk fokus op die nostalgiese van die Afrikaanse taal en kultuur, en op kreatiewe, oorspronklike en suiwer gebruik van Afrikaans. Debat word aangemoedig en kritiese denke gestimuleer. Maroela Media beskik ook oor ʼn radioproduksiehuis, Draadloos, wat vir gemeenskapsradiostasies radioprodukte vervaardig en opleidings- en ander geleenthede skep.

Maroela Media se visie is om aan die breë Afrikaanse gemeenskap, veral plaaslik maar ook internasionaal, nuus en ander inhoud te verskaf wat met integriteit aangepak word, en wat gebalanseerd en betroubaar aangebied word. Ons glo dat dit nie die media se rol is om die publiek voor te skryf hoe hulle moet dink nie, maar wel om aan hulle al die inligting te gee wat hulle nodig het om ingeligte besluite te neem. Hiermee saam wil ons met ons inhoud, wat op ʼn gebalanseerde en betroubare manier aangebied word en deurgaans op soek is na die positiewe, ook hoop skep.

Maroela beskik oor ‘n gratis toepassing vir Android– en Apple-selfone waardeur gebruikers op hoogte van die jongste nuusgebeure gehou word.

Maroela Media spog met ʼn silwer Pendoring vir die Grootste Afrikaner-veldtog as Beste Geïntegreerde Veldtog in 2013 en is die grootste Afrikaanse nuuswebwerf en die enigste Afrikaanse nuuswebwerf onder die top-10 nuuswebwerwe in Suid-Afrika.

visie

Maroela Media se visie is om Afrikaanssprekendes se voorkeur mediahuis te wees waar hulle veilig voel in die wete dat Maroela Media hulle sal voorsien van goeie gehalte, betroubare nuus en inligting, en waar hulle deel is van ‘n gemeenskap waar hulle hul liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur kan koester en uitleef.

doelstellings

  • Om gratis, onpartydige, akkurate en betroubare nuus aan die Afrikaanse gemeenskap te lewer.
  • Om inligting oor die vernaamste segmente van Afrikaanssprekendes se leefwêreld te publiseer.
  • Om ʼn platform te skep vir gesonde debat en die uitspreek van menings in die Afrikaanssprekende samelewing.
  • Om bekend te wees as ʼn Afrikaanse mediahuis wat met integriteit, objektiwiteit en deursigtigheid optree.
  • Om die potensiaal van die Afrikaanse gemeenskap as ʼn bron van inkomste te ontsluit.
  • Om projekte aan te pak wat die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur ten doel het.
  • Om Afrikaanse gemeenskapsradiostasies te ondersteun in die gesamentlike doelwit om die Afrikaanse taal in ʼn media-omgewing te gebruik.
  • Om, waar moontlik, kragte saam te snoer met ander Afrikaanse en Afrikanerinstansies met soortgelyke doelwitte.

maroela media se waarderaamwerk en unieke kultuur

  • Maroela Media funksioneer in ‘n Christelike waarderaamwerk.
  • Maroela Media tree met integriteit en deursigtigheid op.
  • Maroela Media beoefen joernalistiek gebaseer op sterk etiese beginsels, waarin objektiwiteit, deeglikheid, balans, en vryheid van spraak kernbelangrik is.
  • Maroela Media se joernaliste is verbind tot die bepalings van die Suid-Afrikaanse Perskode.
  • Maroela se aanbod aan sy gemeenskap is enersyds nostalgies en behoudend, maar andersyds innoverend en digitaal.
  • Maroela bied aan sy lesers ʼn kultuur waar hulle tuis voel om deel te neem, hul mening te gee met respek teenoor ander lesers, en vrymoedigheid het om dit in hul moedertaal te doen.
  • Maroela is ʼn kuierplek en ʼn gemeenskap vir Afrikaanssprekendes

wat maak maroela ánders?

  • Maroela Media bied aan sy lesers gratis nuus en inligting. Want nuus moet gratis wees.
  • Maroela Media se gebruikersvriendelike platforms (webblad, slimfoontoepassings, ensovoorts) maak dit vir lesers maklik om saam te kuier.
  • Maroela bied aan sy lesers veel meer as leesstof – ons bied jou ook die geleentheid om deel te word van ʼn aanlyn Afrikaanse gemeenskap, soos in die ou dae.
  • Jy is gewaarborg van ʼn nostalgiese kultuurbelewenis – dink aan koeksisters by jou ouma, melktert by jou tannie en visvang by jou oom op die plaas.
  • Ons toon respek vir die Afrikaanse taal en kultuur in ons omgang daarmee.

maroela media-inligtingshandleiding

Laai Maroela Media se artikel 51-inligtingshandleiding hier af.

wil jy op maroela adverteer?

Kyk na die advertensie-geleenthede by Maroela Media.