Luister: Die spanningsdrama ‘Vuurvreters’ is hier

Vuurvreters_1.jpg

Van links na regs: Marius Vermaak, Lochner de Kock, Su-an Müller-Marais, Antowan Nöthling, Schalk Vorster, Bettie Kemp en Anton Dekker (foto: Maroela Media)

Sedert 12 April is elke Woensdag behoorlik ʼn miernes van bedrywigheid in Maroela Media se kantoor in Centurion.  Dit is die dag waarop Bettie Kemp en haar span akteurs Maroela Media se drama-ateljee en raadsaal beset om Vuurvreters op te neem.

Vuurvreters is ʼn splinternuwe drama geskryf deur Joe Kleinhans en vervaardig in samewerking met die baie ervare Bettie Kemp.  Hoewel dit reeds die vyfde radiodrama is wat saam vervaardig word, is dit die eerste keer wat ʼn drama in Maroela Media se eie ateljee opgeneem word. Lees gerus meer oor die eerste opname. 

Kemp, wat reeds in st. 4 haar eerste rol in ʼn radiodrama losgeslaan het, verduidelik dat dié genre baie na aan haar hart lê.  Met Vuurvreters “speel” Bettie twee rolle. Sy is agter die glasgordyn waar sy hard werk as vervaardiger, maar sy is ook dié keer agter die mikrofoon en speel die rol van ouma Leonie.  Sy vertel waarom sy dié twee rolle kan vertolk: “Schalk Vorster (die klanktegnikus) is baie ervare en hy dink al soos ʼn regisseur, en dit het my toegelaat om die rol van ouma Leonie te kan vertolk.”

Dit is vir haar heerlik om weer te kon speel, aangesien sy so lanklaas die kans gehad het om self ʼn rol te kon vertolk omdat sy aan die produksiekant werk.  “Tussen my en Schalk kon ons dit só reël dat ek ouma Leonie kon speel en sy is ʼn wonderlike karakter,” sê Bettie.

Sonder om te veel weg te gee, vertel sy so ʼn bietjie meer van die drama.  “Dit is ʼn heerlike spioenasie-, oftewel, ʼn spanningsverhaal en dit gaan die luisteraars tot aan die heel einde op die punte van hul stoele hou.”

Luister hier na ons gesprek met Bettie, Marius en Su-An:

Vuurvreters_3.jpg

Anton Dekker, Ria Smit, Marius Vermaak en Bettie Kemp (foto: Maroela Media)

Su-An Muller-Marais, die jongste lid van die span, geniet haar rol terdeë en die ervaring is vir haar ook ʼn ongelooflike leerproses.  Sy vertolk die rol van Sally Bloemhof.  “Ek is ontsettend dankbaar dat iemand soos Bettie Kemp in my belê het sodat ek my buiging kan maak in dié radiodrama,” verduidelik sy.

Anton Dekker, oftewel die direkteur Victor Fransman, glo terwyl daar nog ʼn gehoor is, daar altyd plek sal wees vir radiodramas.  “Solank mense wil luister sal ons vir hulle radiostories maak.  Daar het ʼn tyd gekom dat ek gedink het radioteater het ʼn probleem, maar jy moet onthou, radioteater werk op ʼn heeltemal ander vlak in ʼn mens se kop. Dit is radio van jou eie gedagtes, jy moet self die prentjies maak, ons gee nie vir jou alles nie.”  Hy glo radiodramas het ʼn toekoms.

Luister gerus ook in die klankgreep in die berig hoe Marius Vermaak vertel van sy eerste drama-ervaring as klanktegnikus.  Schalk Vorster deel ook hoe dit was toe alles oorgeskakel het na ʼn digitale stelsel.  Ria Smit, oftewel, Tina Truter, verklap ook so ʼn bietjie meer van haar karakter.

Luister hier na ons gesprek met Ria, Schalk en Anton:

Maroela Media verskaf Vuurvreters kosteloos aan gemeenskapsradiostasies. Die drama kan van Maandag 8 Mei op meer as 30 gemeenskapsradiostasies, insluitend internetstasies en in Namibië, gehoor word.  Klik hier om uit te vind watter radiostasies dit uitsaai (die lys word tans opgedateer).  Van Maandag 15 Mei 2018 kan die drama ook elke dag op Maroela Media gehoor word.

Dit gaan ʼn riller van ʼn storie wees…

Die rolverdeling is soos volg:

  • Agent Henry Vogel – Antowan Nöthling
  • Agent Sally Bloemhof – Su-an Müller-Marais
  • Direkteur Victor Fransman – Anton Dekker
  • Septimus Steyn – Lochner de Kock
  • Leonie Verster – Bettie Kemp
  • Tina Truter – Ria Smit
  • Rhoda van der Ross – Heidi Mollentze
  • Adjunkminister Titus Bantjies – Duncan Johnson

Vervaardiger: Bettie Kemp
Klanktegnici: Schalk Vorster en Marius Vermaak
Skrywer: Joe Kleinhans

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.