Radiodrama-skryfkompetisie: Hier is die wenners!

Foto: www.pixabay.com

Foto: www.pixabay.com

RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisiewenners is die afgelope week bekendgemaak.

Die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar twintig jaar oud en die prysgeld is spesiaal verhoog om dié mylpaal te vier. Meer as 120 inskrywings is vir dié kompetisie ontvang.

Vanjaar het die rolprentregisseur en TV-vervaardiger Jan Lampen se radiodrama oor Suid-Afrikaanse huursoldate in die Kongo, Pointe-Noir, dié skryfkompetisie gewen. Hy ontvang R25 000 vir dié drama.

Pointe-Noire, sy debuut-radiodrama, handel oor twee van die laaste oorlewendes wat uit ‘n gevangenis in Pointe-Noire in die suide van die Kongo probeer ontsnap. Die drama laat luisteraars se hare regop staan van afwagting, aldus die beoordelaars.

Janine Fox van der Linde van Stellenbosch het die tweede plek verower met Die kind. Dit is ook haar debuut-radiodrama en sy ontvang R15 000.

Die kind vertel die storie van ʼn jong ma van die Kaapse Vlakte wat steeds rou oor haar sewejarige seuntjie wat op sy sewende verjaardag spoorloos verdwyn het. Sy bly glo dat hy sal terugkom en dat hy nie dood is. Die kind is ‘n emosioneel-belaaide storie wat oorgenoeg humor en ligtheid bevat met ‘n kostelike einde en outentieke karakters.

‘n Groep van sewe lede van die Gebruikerskomitee van die Moot Gemeenskapsbiblioteek in Pretoria beklee die derde plek met hul radiodrama, Nagmaal vir twee. Die groep beskryf hulself as lede van die “gryskop brigade” en het die radiodrama-inskrywing as ‘n fondsinsamelingsprojek aangepak. Hulle ontvang R10 000 se prysgeld.

Dié drama vertel die storie van ʼn bejaarde Afrikaanse plaasboer en sy swart jeugvriend en oud-plaaswerker wat hulself saam in dieselfde ouetehuis bevind. Op die vooraand van die kerkbasaar besluit die boer om ‘n paar lekkernye te gaps om langs die rivier te gaan braai. Met brood en wyn wag hulle vir die hout om kole te word, maar die gesprek neem ‘n wye draai terug tot in die verlede, met verreikende gevolge vir albei…

Nagmaal vir twee is ‘n sensitiewe drama wat met groot deurdagtheid en menslikheid geskryf is.

Die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) is deur die Kaapse sielkundige Gerda Kriel ingepalm. Sy ontvang ook R10 000 vir haar radiodrama, Kopskoot. Dit is haar tweede radiodrama, nadat sy in 2014 dieselfde kategorie gewen het met haar debuut, Swanesang.

RSG gaan die vier wendramas tydens die eerste Radioteater-seisoen van 2017 uitsaai. Dié seisoen begin in April.

Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, meen ʼn kompetisie soos dié is ʼn belegging in skryfkuns. “Die vele vlakke van die kompetisie bewys boonop dat beginners deur die slypskole en mentorskapproses met gemak ʼn wendrama kan skryf,” het hy gesê.

Vir meer inligting, besoek RSG se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.