Soorte resepte:

Bak koek vir die bekendes

Anél Potgieter, aanbieder van Bak of Brou (Foto: Verskaf)

VIA se jongste kosprogram Bak of Brou gee deelnemers die geleentheid om vir glansgas ’n koek te bak vir sy of haar partytjie. Maar daar is ’n kinkel in die kabel: Die deelnemers weet nie vir wie hulle hierdie koek bak nie.

Twee bobaasbakkers kry ’n identiese opdrag van ’n klant (die glansgas) vir ’n partytjie. Die bakkers weet nie wie die klant is nie, het net drie ure om ’n wenkoek te bak en af te koel, te versier en dan die lae opmekaar te sit.

Die bakkers moet ook die koeke in een stuk na die partytjie vervoer, en dit is dáár waar hulle die glansgas vir die eerste keer ontmoet. Die glanspersoon besluit dan wie gebak en wie gebrou het.

Die program word aangebied deur die bekende kos-persoonlikheid Anél Potgieter, wat al twee keer aangewys is as die beste kosblogger in die land.

Potgieter bieg sy voel gemakliker voor die kospotte as die mengbak. “Ek moet eerlik wees – ek is liewer vir kook as vir bak. Maar ek is wel gek oor koekversier,” sê sy.

Anél het haar kostalente vir die eerste keer getoon toe sy op agtjarige ouderdom “dadelbrood” vir gaste ná kerk moes maak. Sedertdien het sy by verskeie tydskrifte as kosskrywer, asook op die bekende TV-program Expresso gewerk.

Kurt Darren, Martelize Brink, Elana Afrika-Bredenkamp, Crystal-Donna Roberts en Margit Meyer-Rödenbeck is van die glansgaste vir wie die deelnemers ’n koek sal moet bak. Al die aksie word op kamera vasgevang en daar is klomp drama en komieklike oomblikke wat heelwat vermaak gaan verskaf in elke episode.

Bak of Brou word van vandag (17 Julie) op Maandae om 18:30 op Via (DSTV-kanaal 147) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

thea ·

hoekom moet die hare so gekam word van Anel, regtig baie swak
program ook nie baie sterk nie
regtig dstv prober iets anders

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.