Soorte resepte:

Maklike hoenderpastei

6 porsies

15 ml (1 e) olyfolie
8 hoenderporsies of 1 heel hoender
250 ml (1 k) hoenderaftreksel
1 lourierblaar
3 elk heel kruienaeltjies en wonderpeperkorrels
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 uie, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
250 g sampioene, in skyfies gesny
15 ml (1 e) gedroogde gemengde kruie
125 ml (½ k) kookvloeistof van hoender

Kors
125 ml (½ k) melk
1 eier
125 ml (½ k) olie
250 ml (1 k) koekmeel
‘n knippie sout
10 ml (2 t) bakpoeier

1. Verhit ‘n bietjie van die olie in ‘n groot kastrol en verbruin die porsies of heel hoender.
2. Verlaag die hitte en voeg die aftreksel, lourierblaar, speserye en sout en peper na smaak by. Prut die hoender 45 – 60 minute of tot gaar.
3. Skep die hoender uit en behou die vloeistof waarin die hoender gekook het. Verwyder enige vel en bene en sny die vleis in stukkies.
4. Soteer die uie in die orige olie in dieselfde kastrol. Roer die knoffel, sampioene en kruie by en soteer dit ‘n paar minute.
5. Roer die hoender en genoeg van die behoue vloeistof by die groentemengsel om ‘n redelik klam mengsel te kry. Geur na smaak en skep dit in ‘n oondbak.
6. Voorverhit die oond tot 180°C.
7. Kors: Klits die melk, eier en olie saam. Sif die droë bestanddele saam en voeg dit by die melkmengsel om ‘n slap beslag te vorm. Voeg nog melk by indien nodig.
8. Giet die beslag oor die vleis en bak dit ongeveer 30-40 minute of tot goudbruin en gaar.

Foto en resep oorspronklik in Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-Landboue-unie gepubliseer. Uitgegee deur Lapa, 2011.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.