Soorte resepte:

[Resep] Hoender-en-gortsop

Hoender-en-gortsop en volkoringdrupskons met Pink Lady®-appels (Foto: Verskaf)

Hier is twee resepte waarvan jou gesin beslis baie gaan hou. Hoendersop is mos kos vir liggaam en siel en as dit boonop lekker dik, vullend en voedsaam is, soveel te beter. Die kombinasie van groente, gort en hoender is baie lekker en dis sommer klaar ’n ete-in-een – perfek vir ’n koue aand.

Die skonsresep is eintlik ’n drupskons waarvan die deeg sommer met ’n lepel op die bakplaat geskep word. Jy hoef nie te sukkel met ’n meer delikate deeg wat uitgerol en uitgedruk moet word nie. Die karringmelk in die resep gee dit ’n baie lekker smaak en tekstuur en om dit so ʼn bietjie anders te maak, is daar blokkies vars appel in die deeg wat dit ’n heerlike soet smaak gee. Sit die skons warm uit die oond met ’n smeerseltjie botter en gerasperde wit cheddarkaas voor en bederf almal met die lekker gebakkies.

Resep uit Cooking from the Heart 3

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 20 ml (4 t) olyf- of avokado-olie
  • 3 hoenderborsies aan die been, vel en oortollige vet verwyder
  • 2 uie, gekap
  • 4 wortels, geskil en in blokkies gesny
  • 4 selderystingels met die blare, gekap
  • 4 murgpampoentjies, in blokkies gesny
  • 2 liter (8 k) sterk rooibostee
  • 250 ml (1 k) water
  • 5 takkies vars roosmaryn
  • 2 lourierblare
  • 250 ml (1 k) rou gort
  • 1,2 ml (¼ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 45 ml (3 e) gekapte vars pietersielie

Metode:

  1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol (’n AMC 24 cm High is ʼn lekker grootte). Braai hoender tot goudbruin, maar nie gaar nie. Skep uit.
  2. Soteer die uie, wortels, seldery en murgpampoentjies in dieselfde kastrol tot verbruin.
  3. Voeg hoender, tee, water, roosmaryn, lourierblare, gort en sout by. Verlaag die hitte. Prut met ’n deksel vir 20 minute of tot die hoender gaar is.
  4. Skep hoender uit. Prut die sop vir nog 40-45 minute of tot die gort sag is.
  5. Ontbeen die hoender en sny die vleis in kleiner stukkies. Roer die hoender weer by die sop sodra die gort gaar is. Geur na smaak met suurlemoensap en peper.
  6. Roer pietersielie by en sit warm voor.

Wenk

Avokado sal lekker saam met die sop wees, veral as jy brood as bykomstigheid by die sop probeer vermy

Volkoringdrupskons met Pink Lady®-appels

Lewer 12 groot of 15-20 kleiner skons

Bestanddele:

  • 560 ml (2¼ k) steengemaalde volkoringmeel
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • 60 ml (60 g) koue botter, in blokkies gesny
  • 1 Pink Lady®-appel met die skil, in klein blokkies gesny
  • 3 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 250 ml (1 k) karringmelk
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 200 °C. Voer twee bakplate met bakpapier uit. Strooi ’n bietjie ekstra meel oor die bakpapier.
  2. Plaas die droë bestanddele in ’n groot mengbak en vryf die botter met jou vingerpunte of met ’n deegsnyer in tot dit soos broodkrummels lyk. Roer die appel by die meelmengsel.
  3. Klits die eiers, karringmelk en vanieljegeursel saam in ’n aparte mengbak.
  4. Giet die vloeistof by die meelmengsel en sny met ’n mes in tot daar nie meer droë bestanddele sigbaar is nie, maar moenie te veel meng nie.
  5. Skep lepelsvol van die beslag op die bakplate. Bak vir 20-25 minute tot goudbruin en gaar.
  6. Sit warm of teen kamertemperatuur met gerasperde wit cheddarkaas voor.

Daar is elke Maandagoggend nog maklike en gesonde resepte vir die hele gesin op #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet kanaal 144. Of volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood om die skakel na elke week se resepte te kry. Of gaan loer op haar webwerf, www.heleenmeyer.co.za, vir daardie en vele ander smullekker idees.

Haar resepteboek, Maak vyf is ook op Maroela Media se e-winkel by https://maroelawinkel.co.za/ beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.