Soorte resepte:

Koffie: Dinge wat jy (dalk) nie geweet het nie

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Ons is so opgewonde om Koffiedag op 29 September te vier, ons vier dit sommer die hele week lank! Hou Maroela Media dop vir unieke resepte en interessante artikels oor dié wondermiddel.

Koffie vir jou hart

Koffie is nou nie juis ʼn kitskuur vir allerlei kwale nie, maar dit hou darem ʼn paar gesondheidsvoordele in. Navorsing toon dit kan jou help beskerm teen tipe 2-diabetes, Parkinson se siekte, lewerkanker en ander lewerkwale, en hartaanvalle. Dit gee ook jou energie- en adrenalienvlakke ʼn hupstoot en kan jou help om beter te fokus.

Aan die ander kant van die munt kan te veel kafeïen jou gespanne, geïrriteerd en rusteloos laat voel, bewerig maak en lei tot slapeloosheid, wat weer tot moegheid in die dag aanleiding gee, wat kan veroorsaak dat jy meer koffie drink om beter te voel. Dit veroorsaak dus ʼn bose kringloop.

Jy behoort nie meer as 500 mg kafeïen per dag in te neem nie (adolessente moenie meer as 100 mg inneem nie, en kinders behoort slegs nou en dan kafeïen in te neem). Een koppie koffie bevat tussen 95 mg en 200 mg. Luister dus na jou liggaam, en beperk jou koffie tot die hoeveelheid wat jy kan inneem voor jy newe-effekte begin ervaar.

Die oorsprong van koffie: Die bokke en die bessies

Volgens oorlewering het ʼn Arabiese skaapwagter in Ethiopië opgemerk dat sy bokke ʼn voorliefde het vir die helderrooi bessies aan ʼn bos, en dat hulle vol energie tussen dié bosse rondspring om die rypste bessies uit te soek. Kon hulle ongewone energie dalk iets met die bessies te doene hê? Hy het self daarvan gepluk en dit per ongeluk in die vuur laat val, en só die geurige aromas daarvan ontdek.

Daarna het die Ethiopiërs begin om die koffiebone met ʼn steen en maler fyn te maal en kookwater oor die gemaalde bone te gooi – die begin van die drankie wat ons vandag as koffie ken. Van Ethiopië af is die groen bone per boot deur Moslempelgrims en soldate na verskeie lande geneem. Monnike in kloosters het daarmee begin eksperimenteer om hulle te help wakker bly tydens lang gebedsessies. Dit het so goed gewerk dat hulle dit ook na ander kloosters oor die wêreld begin versprei het, tot so ʼn mate dat die pous dit in ʼn stadium verban het, omdat dit glo te veel van sy aandag in beslag geneem het.

Truth: Die wêreld se beste koffiewinkel aan die voet van Tafelberg

Truth Coffee Roasting, ʼn gewilde “steampunk”-koffiewinkel in Buitenkantstraat, Kaapstad, is verlede jaar deur die Britse nuusagentskap The Telegraph aangewys as die beste koffiewinkel in die wêreld. Die koffiewinkel word gekenmerk deur die metaalpype en ou masjinerie wat as dekor ingespan word. Maar die eintlike rede hoekom mense soontoe stroom, is vir die koffie. Truth se koffie word met die hand gerooster in ʼn outydse gietysterdrom, en die maatskappy verskaf koffie aan baie van Suid-Afrika se tophotelle.

Waar word koffie verbou?

Brasilië is die wêreld se grootste verbouer van koffie: in 2015 het dié land 43,2 miljoen sakke koffie (60 kg per sak) verbou. Viëtnam is in die tweede plek met 27,5 miljoen sakke koffie, met Colombië derde – 13,5 miljoen sakke. Ander topproduserende koffielande is Indonesië, Ethiopië, Indië, Honduras, Uganda, Mexiko en Guatemala.

Koffieverbouing in Suid-Afrika

SA se klimaat is meestal nie gunstig vir die omstandighede wat nodig is vir koffieplante om te floreer nie. Suid-Afrikaners verbruik meer as 20 000 ton koffie per jaar, maar daar is slegs sowat 200 hektaar koffieplantasies in die land. Dié plase is in KwaZulu-Natal en Mpumalanga geleë, waar die klimaat meer tropies is.

Wie is SCASA?

SCASA, die Specialty Coffee Association of South Africa, is ʼn vereniging van rolspelers in die koffiebedryf uit alle sektore van dié nywerheid in Suider-Afrika. SCASA se missie is om die verbruik van goeie gehalte koffie in Suider-Afrika te bevorder, en om aan mense in die koffiebedryf die nodige erkenning te gee. SCASA organiseer plaaslik baristakompetisies waartydens plaaslike baristas geïdentifiseer word om internasionaal aan kompetisies soos die Wêreldbaristakompetisie deel te neem.

Kitsfeite om ander koffie-snobs mee te beïndruk

  • Koffie is die produk wat die tweede hoogste verbruik in die wêreld het (naas olie). Daar word wêreldwyd sowat 4 miljard koppies koffie per jaar gedrink.
  • In Turkye is daar lank gelede van die bruidegom verwag om tydens die huwelik aan sy bruid te belowe dat hy haar altyd van koffie sal voorsien. Indien hy dit nie kon doen nie, was dit grondige rede vir ʼn egskeiding.
  • Espresso bevat net ʼn derde van die kafeïen van ’n koppie perkoleerkoffie. Die rede is dat die water in ʼn perkoleerder baie langer met die koffie in aanraking is as in ʼn espresso-masjien, wat beteken dat daar meer kafeïen uit die koffie onttrek word. Espresso brou ongeveer 30 sekondes, terwyl perkoleerkoffie tussen drie en vyf minute brou.
  • Beethoven het die aantal koffiebone wat hy vir ʼn koppie koffie gebruik het, afgetel – hy het geglo 60 bone maak die perfekte koppie koffie.
  • Die perfekte temperatuur vir die melk waarmee cappuccino gemaak word, is 65 °
  • Koffiebone is nie eintlik bone nie: Dis bessies van die koffieboombos.
  • Die drie lande wat die meeste koffie verbruik, is Finland (teen 11,8 kg per persoon per jaar), Amerika, Frankryk en Duitsland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Reinhardt ·

As self-geproklameerde koffiesnob was hierdie stukkie nou baie lekker om te lees.
Ek sal vir seker daai feite rondgooi by die werk.
Praat so van werk, nou is ek mos lekker lus vir n koppie koffie. Laat ek maar oor die pad loop na Bootlegger toe en myself bietjie bederf.

bendons ·

Ek stem daar is niks lekkerder as ‘n Kometjie Gaat/Boere Koffie nie veral as dit gerooster is in ysterpot met bruinsuiker en ‘n knippie sout daarby nie.
Goed deur gerooster .
Dan moet hy in sak en ketel op die stoof staan net vir skink. Die leoel moet regio staan.
Ha!!Ha! Lekker.

Rln ·

Ai, Bendons hoe lus ek nou vir sak koffie! My ouers het n lang koffie (geel enemel) ketel gehad, My Pa het die sak gemaak en ons het altyd “trekker” koffie gedrink. My Pa het geglo dat dit die beste koffie was.

Blixum ·

Truth die beste koffiewinkel in die wêreld? Ag nee wat. Het daardie T-hemp aangetrek en was maar teleurgesteld. Het hulle selfs ‘n 2de kans probeer gee deur koffiebone huis toe te neem. Eintlik maar baie ordinêr. Veral die diens ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.