Soorte resepte:

[Resep] Karamel-en-koekiepoeding

Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Karamel-en-koekiepoeding. Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Daar vlieg alle goeie voornemens uit by die deur! ʼn Ekstra kilometer of twee om die blok is aan die orde van die dag …

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

Koekielaag

  • 1 x 200 g-pak Nutty Crust-koekies, grofgekap
  • 60 ml klapper
  • 60 ml pekanneute, grofgekap
  • 1 x 380 g-blik ingedampte melk, verkoel
  • 1 x 397 g-blik Clover-kondensmelk
  • 2,5 ml vanieljegeursel

Karamellaag

  • 1 x 80 g-pakkie suurlemoenjellie
  • 5 ml gelatien
  • 250 ml kookwater

Afronding

  • 250 ml Clover vars room
  • 10 ml versiersuiker, gesif
  • 2,5 ml vanieljegeursel

Metode:

  1. Koekielaag: meng al die droë bestanddele saam en hou eenkant.
  2. Karamellaag: meng die suurlemoenjellie en gelatien saam. Voeg die kookwater by en roer tot opgelos. Plaas die mengsel solank in die yskas om af te koel, maar moenie dat dit stol nie.
  3. Gebruik ʼn elektriese klitser om die verkoelde ingedampte melk te klits tot dit verdubbel in volume.
  4. Roer die tuisgemaakte karamelkondensmelk tot glad en klits dit by die styfgeklitste ingedampte melkmengsel. Roer die vanieljegeursel deur.
  5. Voeg die jelliemengsel by die kondensmelkmengsel en meng goed.
  6. Skep eetlepels vol van die gekapte koekiemengsel in ses glase of glasbakkies. Skep van die jellie-en-kondensmelkmengsel oor die koekies. Herhaal die lae tot al die bestanddele op is.
  7. Plaas die mengsel vir 5 uur in die yskas om te stol.
  8. Afronding: klits die room, versiersuiker en vanieljegeursel tot styf.
  9. Dien die poeding saam met die styfgeklitste room op.

Wenk: tuisgemaakte karamelkondensmelk

  1. Haal die papier-etiket van die kondensmelkblik af. Maak twee gaatjies in die bokant van die kondensmelkblik. Plaas die blik regop in ʼn groot kastrol en vul die kastrol tot 1 cm onder die rand van die kondensmelkblik met water. Verhit die water tot kookpunt, verlaag die hitte en laat vir 3-3½ uur prut tot daar karamel vorm by die gaatjies in die blikkie.
  2. Vul die water in die kastrol gereeld met kookwater aan sodat dit nie droogkook nie. Die water moet 1 cm onder die rand van die kondensmelkblik bly.
  3. Verwyder die kondensmelkblik uit die kookwater met ʼn tang en laat dit heeltemal afkoel.

Bron: Clover Ekonomiese gesinskos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

By die bestanddele staan net Clover kondensmelk, dit MOET die gekarameliseerde tipe wees , wat wel so genoem word in die metode.

Hester ·

Die bestanddele is reg. Dit moet gewone kondensmelk wees. In die metode staan daar dat jy tuisgemaakte karamel kondensmelk nodig het, waarvan die resep ook gegee is en daarvoor het jy gewone kondensmelk nodig

Fransie ·

Hester, ek dink Henrietta is te jonk – sy weet nie van die ou metode van gewone kondensmelk kook nie. Dit bring sulke goeie herhinneringe terug (veral die skoonmaak van die wydgemorsde kondensmelk as die water per ongeluk drooggekook het)?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.