Soorte resepte:

[Resep] Koringslaai met mielies en lensies

Foto: Verskaf

Hierdie koringslaai-resep het ek al verskeie kere vir mense aangestuur. Elke keer wanneer iemand dit proe, wil hulle graag die resep hê. Dis heerlik as interessante styselgereg vir ’n braaivleis-ete of geroosterde hoender, en ook ’n alternatief vir die tipiese aartappelslaai. Maak dit sommer die dag vantevore, want die volgende dag is dit selfs nog lekkerder as al die geure ontwikkel het. Die Marokkaanse geure met suurlemoen, kaneel, komyn, kruisement- en koljanderblare is regtig lekker.

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele:

  • 250 ml (200 g) rou stampkoring
  • 1 heel kaneelstokkie
  • 750 ml (3 k) water
  • ’n knippie sout
  • 250 ml (1 k) bevrore of geblikte heelpitmielies, deeglik gedreineer
  • 1 x 410 g-blik lensies, gedreineer en afgespoel
  • 10 sagte (Turkse) gedroogde appelkose, in klein blokkies gesny
  • 75 ml (5 e) sultanas
  • 75 ml (5 e) sonneblomsaad, gerooster
  • 30-45 ml (2-3 e) elk grofgekapte vars koljander- en kruisementblare

Slaaisous

  • 125 ml (½ k) avokado- of olyfolie
  • 25 ml (5 t) appel- of witdruiweasyn
  • 40 ml (8 t) suurlemoensap
  • 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 7,5 ml (½ e) gemaalde komyn
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel
  • 40 ml (8 t) gekapte vars koljanderblare
  • 20 ml (4 t) gekapte vars kruisementblare
  • sout en peper na smaak

Metode:

  1. Plaas stampkoring met kaneelstokkie, water en sout in ’n kastrol (’n AMC 20 cm Low is groot genoeg) en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag hitte en prut 30-40 minute met die deksel of tot net sag.
  2. Dreineer in ’n sif of vergiettes, spoel af met koue water en laat vir ’n paar minute afdrup. Skep in ’n groot mengbak en laat afkoel.
  3. Slaaisous: Klits intussen al die bestanddele saam en geur na smaak.
  4. Meng die orige slaaibestanddele, behalwe die vars kruie, versigtig met die koring en skink ⅔ van die slaaisous oor. Geur na smaak.
  5. Indien verkies, verkoel eers die slaai vir 1 uur in die yskas. Roer dan die orige slaaisous deur en garneer met vars kruie voor dit voorgesit word. Die slaai is ook die volgende dag heerlik in ’n kosblik.

Wenk

  1. Kekerertjies sal ook baie lekker wees in die slaai.

Pynappel met klapper en jogurt

Hierdie pynappelresep het net vyf bestanddele en is ideaal om as nagereg voor te sit. Dik skywe vars pynappel word in ’n pan gebraai en met gewone jogurt voorgesit. Die jogurt word met geroosterde klapper gegeur en ’n bietjie vars kruisement is perfek daarby. Dié nagereg is vinnig en maklik om te maak.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 1 pynappel, geskil
  • 45 ml (3 e) fyn klapper
  • 10 ml (2 t) avokado- of olyfolie
  • 175 ml ongegeurde jogurt
  • ’n handvol vars kruisementblare

Metode:

  1. Sny pynappel in 6 dik skywe.
  2. Voorverhit ’n braaipan oor matige hitte (’n AMC 24 cm Chef’s Pan is groot genoeg) en rooster die klapper sonder enige olie tot liggies goudbruin. Wees versigtig, want die klapper kan maklik brand. Skep uit.
  3. Verhit die olie in dieselfde pan en braai pynappel aan beide kante tot goudbruin en effens gaarder.
  4. Meng 30 ml van die klapper met die jogurt. Sit pynappel voor met die jogurt en strooi die res van die klapper oor. Garneer met vars kruisementblare.

Wenke

  1. Die resep werk uitstekend met ander vrugte soos pruime, perskes of appelkose wat ontpit en gehalveer is.
  2. Pak die pynappel en jogurt in aparte bakkies as jy dit vir ’n kosblik wil pak.

Kyk Maandae-oggende na #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet (kanaal 144) vir nog lekker maklike en gesonde resepte. Volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood en besoek gerus haar splinternuwe webwerf, www.heleenmeyer.co.za, vir nog smullekker idees. Haar resepteboek Maak vyf is ook op Maroela se e-winkel, https://maroelawinkel.co.za/, beskikbaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.