Soorte resepte:

[Resep] Sjokolade Cremora-poeding

Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Sjokolade Cremora-poeding. Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Kyk net hoe pragtig sal hierdie poeding op die Kerstafel lyk!

12 porsies

Bestanddele:

Cremora-vulsel

  • 250 ml Cremora-poeier
  • 250 ml yswater
  • 1 x 397 g blik Clover-kondensmelk
  • 45 ml kakao
  • 125 ml suurlemoensap
  • 200 g donkersjokolade
  • 20 ml gelatien
  • 45 ml water

Kors

  • 1 x 200 g- pakkie Oreo-koekies
  • 60 ml Clover Mooi River-botter, gesmelt

Sjokoladesous

  • 90 g donkersjokolade
  • 180 ml Clover vars room

Metode:

  1. Smeer ʼn broodpan van 20 cm x 10 cm met botter en voer uit met kleefplastiek. Laat die kleefplastiek oor die broodpan se rand hang. Spuit die kleefplastiek met kossproei.
  2. Cremora-vulsel: gebruik ʼn elektriese klitser en klits die Cremora en water saam vir 10 minute.
  3. Meng die kakao en ʼn bietjie van die suurlemoensap saam tot glad. Voeg die oorblywende suurlemoensap by en meng weer.
  4. Meng die suurlemoensapmengsel en die kondensmelk goed saam.
  5. Smelt die sjokolade in ʼn dubbelkoker op die stoof of in die mikrogolfoond teen 50% krag. Roer die gesmelte sjokolade by die kakaomengsel tot goed gemeng.
  6. Voeg die kakaomengsel by die Cremora-mengsel en meng goed.
  7. Spons die gelatien in die water en roer dan oor kookwater totdat die gelatien opgelos het.
  8. Voeg die gelatienmengsel by die Cremora-mengsel en klits tot goed gemeng.
  9. Skep die Cremora-vulsel in die brood pan en maak dit gelyk bo-op.
  10. Kors: kap die koekies fyn in ʼn voedselverwerker. Voeg die gesmelte botter by en meng goed.
  11. Strooi die koekiekrummels oor die cremoravulsel en maak dit gelyk bo-op. Plaas oornag in die yskas om te stol.
  12. Keer die tert versigtig uit die broodpan met behulp van die kleefplastiek. Plaas dit direk op ʼn geskikte opdienbord.
  13. Sjokoladesous: Smelt die sjokolade en room oor lae hitte en verwyder van die hitte. Laat die sjokoladesous afkoel en sit dit saam met die poeding voor.

Bron: Clover Ekonomiese gesinskos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.