Soorte resepte:

[Resep] Pan-omelet met mielies, ertjies & kaas

Pan-omelet met mielies, ertjies & kaas (Foto: Verskaf)

Eiers is bekostigbaar, veelsydig en beslis gesond. Ja, ’n paar jaar gelede was die klem daarop dat ons nie te veel eiers in een week moet eet nie, maar vandag weet ons dat eiers inderdaad gesond is. Die manier waarop die eiers gaargemaak word en wat daarmee saam geëet word, is amper ’n groter probleem as dit by gesonde opsies kom.

Hierdie pan-omelet is ewe lekker as ligte ete of in ’n kosblik. Wees kreatief met die groente wat jy wil byvoeg en gebruik dit waarvan jou gesin sal hou. Van kruie en verskillende soorte kaas tot groente soos sampioene, ertjies, murgpampoentjies, uie, sprietuie en selfs spinasie, om maar net ’n paar te noem. Eiers is lankal nie meer net ’n ontbyt-bestanddeel nie, so maak sommer die week nog die maklike pan-omelet.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 2

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 8-10 Nulaid ekstra-groot eiers, geklits
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • swartpeper na smaak
  • 15 ml (1 e) avokado- of olyfolie
  • 80 ml (⅓ k) bevrore ertjies, afgespoel
  • 80 ml (⅓ k) bevrore heelpit mielies, afgespoel
  • 125 ml (½ k) gerasperde pecorino- of cheddarkaas

Metode:

  1. Geur die eiers met die sout en peper.
  2. Verhit olie oor matige hitte in ’n braaipan (’n AMC 28 cm of 24 cm Chef’s werk goed, afhangend van hoe dik jy die omelet verkies) en giet die eiers in die pan.
  3. Laat eiers effens begin stol en lig die gaar eier al om die rand van die pan met ’n eierspaan, sodat die rou eier onder dit kan inloop, maar moet dit nie roer nie. Laat dit gaar word tot die meeste van die eier gestol het.
  4. Strooi die ertjies, mielies en kaas bo-oor.
  5. Sit die deksel vir ’n paar minute op, of tot die eier heeltemal gestol en die kaas gesmelt is.
  6. Lig die omelet met ’n eierspaan uit die pan, laat effens afkoel en sny in wiggies om in ’n kosblik te pak. Of geniet as ontbyt, ligte middag- of aandete.

Wenk

  1. Vars kruie is heerlik saam met eier, klits 45 ml (3 e) gekapte vars kruie met die sout en peper by die eiers. Probeer gerus origanum, Italiaanse pietersielie, dille of tiemie.

 

Kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, op kykNet se kanaal 144 waar ek oor smullekker en maklike resepte gesels. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood of besoek my webwerf www.heleenmeyer.co.za as jy na nog resepte opsoek is of meer oor die pan-omelet wil lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swapie ·

Beslis nie huidiglik bekostigbaar in die Kaap nie. R62 vir 30 eiers. Eierplase is toe agv die voël griep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.