Soorte resepte:

[Resep] Vyekonfyt

konfyt

Foto: Pixabay.com

Ons deel graag hierdie heerlike konfytresep en sommer ook wenke oor algemene foute wat voorkom wanneer jy konfyt kook.

Lewer ± 1 kg

Bestanddele:

  • 1 kg suiker
  • 200 ml water
  • 1 kg ferm ryp vye, stamme verwyder en in kwarte gesny
  • 30 ml vars suurlemoensap

Metode:

  1. Verhit die suiker en water saam in ʼn swaarboomkastrol oor lae hitte en roer tot die suiker opgelos is.
  2. Voeg die vye by en kook onbedek vir 1 tot 2 uur tot dik en stroperig. Roer voortdurend om aanbrand te voorkom.
  3. Toets vir stolpunt, giet die konfyt in warm gesteriliseerde bottels en verseël. Toets vir stolpunt deur ’n bietjie van die mengsel op ’n koue bord wat in die vrieskas was te drup. Laat vir 30 sekondes afkoel. As die stroop stolpunt bereik het, sal dit plooitjies maak wanneer jy met jou vinger daarteen druk.

Variasies:

Vye-en-sesamsaadkonfyt

  • Voeg twee repies vars suurlemoenskil saam met die vye by. Rooster 100 ml sesamsaad in ʼn klein pannetjie in die oond vir 5 tot1 0 minute by 180 °C  tot goudbruin. Voeg dit heel laaste by nadat die vye 1¾  tot 2 uur gekook het. Sit dit voor op geroosterde Italiaanse brood saam met beleë Cheddarkaas.

Vye-en-roosmarynkonfyt

  • Spoel 50 tot 75 ml vars roosmarynblaartjies goed af, breek dit los van mekaar en verkoel dit tussen kombuispapier. Roer dit by nadat die konfyt 1¾ tot 2 uur gekook het.

Die mees algemene foute wat voorkom

Dit stol nie voldoende nie en is loperig

  • Daar is te min pektien in die vrugte wat gebruik is. Voeg kommersiële pektien by en kook weer tot stolpunt bereik is.
  • Die balans tussen suur en pektien was nie reg nie. Voeg nog suurlemoensap by en kook weer tot stolpunt bereik is.
  • As die vrugte sag is voor die stroop reg is, moet die vrugte uitgehaal word en net die stroop verder gekook word. Plaas die vrugte weer in die kastrol en kook verder.

Die vrugte beweeg boontoe in die bottel

  • Die konfyt is nie toegelaat om te rus nadat dit gekook is nie. Die vrugte is dus nie egalig deur die stroop versprei nie en sommige bottels mag dan meer stroop as vrugte hê. Skep alles in ʼn bak uit, laat die konfyt heeltemal afkoel en roer die vrugte egalig deur die stroop. Skep dit terug in die bottels en bedek dit met ʼn brandewynlappie of waspapier. Hierdie stap is belangrik omdat die konfyt nie warm gebottel word nie.
  • Die stroop is te dun. Dreineer die stroop van die vrugte af, giet dit terug in die kastrol, voeg nog suiker by en kook weer vinnig tot die stolpunt bereik is. Roer die vrugte weer by en bottel.

Die stroop het gekristalliseer (sandsuiker gevorm)

  • As die konfyt suikerkristalle in het, kan dit in die mikrogolf verhit word om die kristalle te smelt, en dan gebruik word. Die kristalle is nie skadelik nie en beïnvloed ook nie die smaak nie.
  • Die temperatuur waarteen die produk gebêre word, is te laag.
  • Daar is te veel suiker bygevoeg.
  • As die stroop voor die vrugte reg is, kan ʼn bietjie dun stroop bygevoeg word. Kook dan verder. lndien dit nie gedoen word nie, sal die stroop te gekonsentreerd wees teen die tyd dat die vrugte reg is en dan maklik sandsuiker vorm.

Die vrugte is te donker

  • Die suiker het begin karamelliseer omdat die konfyt te lank gekook het.
  • Die kastrol is op die plaat gelos terwyl jy besig was om te bottel; dit het veroorsaak dat die kook proses nie beëindig is nie.

Skimmel (fungus) vorm bo-op

Hierdie produkte moet dadelik vernietig word aangesien die skimmel wat bo-op groei, ook ʼn onsigbare netwerk van drade binne-in die produk vorm. Dit is skadelik vir menslike gebruik.

  • Die produk is nie behoorlik verseël nie.
  • Die deksels was nie heeltemal lugdig nie.
  • Die bottel se seël is gebreek.
  • Flesse is nie behoorlik gesteriliseer nie.

Bron: Bottel en gebruik
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miemie Grobler ·

Baie dankie vir al hierdie waardevolle inligting ivm met Vye konfyt. Ons kook elke jaar vye, veral die Kaapse bruinvy, diespoel ons net af, nadat die pluksel geweeg is, maal ons sommer skil en al vir fyn vye konfyt. Tydens die kookproses, sit ons ‘n takkie met so 4 tot 5 blare saam met die vye in, dit gee ‘n heerlike vye reuk aan jou konfyt….. hierdie dra ek op aan my oorlede Skoonma….

Gesien dat die vye ons area meestal die laaste week in Desember ryp is, en nie kans gesien het om potte vol te kook ni, het ons die vye gemaal in plastiek sakke verseel, en gevries om later te kook. Geheim is dan om minder water te gebruik wanneer hierdie gekook word…. ontdooi dit net deeglik in yskas voor kook.

Wendy ·

Wanneer sit jy die suurlemoensap in vir die vye konfyt asseblief, dankie

Miemie Grobler ·

Hi Wendy, gewoonlik nadat die suiker opgelos het, wat in lae gegooi is in die kookpot, gemaalde vye en suiker, belangrik is stadige hitte, voeg dan die suurlemoen by…. dit is baie belangrik,veral as die vye baie soet is, word dit maklik sandsuiker….. die suurlemoen of wynsteensuur verhoed dat dit sandsuiker word… skep aan die begin van die kook proses die skuim af, en moet nie onnodig die kooksel roer nie, om sandsuiker te voorkom. Ons gebruik ‘n skraper om die suiker en pitte teen die rand van die pot af te skraap tydens die kookproses,….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.