Soorte resepte:

[Resep] Witbone-doopsous

Foto: Verskaf

Bone is ʼn veelsydige bestanddeel en hoewel baie mense nie daarvan hou nie, is daar wonderlike maniere om dit deel te maak van etes. Hierdie bone-doopsous is ʼn geurige en maklike idee om bone interessant voor te sit. Selfs mense wat nie van bone hou nie, geniet hierdie doopsous, soms sonder dat hulle besef dis inderdaad met geblikte bone gemaak. Die kombinasie van bone, paprika, suurlemoensap en vars kruie is perfek met die meer neutrale smaak van die bone. Die geroosterde sonneblomsade gee dit ʼn heerlike neuterige geur. Bone is van nature hoog in vesel en laag in sout en dus perfek as deel van ʼn gesonde manier van eet, skryf Heleen Meyer.

  • Aangepas uit Cooking from the heart
  • Lewer 6 – 8 porsies (500 ml)

Bestanddele:

  • 2 x 410 g blikke wit- of botterbone, gedreineer, maar behou die vloeistof
  • 100 ml sonneblomsaad, gerooster
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie, of meer na smaak
  • 5 ml (1 t) paprika of gerookte paprika
  • 20 ml (4 t) gekapte vars Italiaanse pietersielie
  • 50 ml suurlemoensap, of meer na smaak
  • swartpeper na smaak

Metode:

  1. Plaas al die bestanddele, met 50 ml van die behoue vloeistof van die bone, in ’n diep mengbak of groot mengbeker.
  2. Meng met ’n stokmenger tot ’n growwe tekstuur. Geur na smaak en voeg meer vloeistof of olie na smaak by.
  3. Sit voor as doopsous met byna enigiets. Dis heerlik met groenterepies of smeer op ’n pita, toevoupakkie (wrap) of broodjie. Dit is selfs lekker op vleis of ʼn gebakte aartappel of patat.

Wenke:

  1. Om jou eie sonneblomsaad te rooster, plaas sade in ’n braaipan sonder enige olie. Rooster 3-5 minute oor matige hitte of tot goudbruin.
  2. Plaas orige doopsous in die yskas in ’n lugdigte houer vir 4-5 dae.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.