Soorte resepte:

[Resep] Varkkebabs en boneslaai

Die sinergie van kosgeure bly vir my een van die lekkertes van eet. As twee eenvoudige bestanddele wat saam gebruik word ʼn nóg lekkerder geur tot gevolg het, het jy nie veel meer nodig nie. Dink maar net aan botterskorsie en kaneel, vis en suurlemoen of tamatie en vars basiliekruid.

Vir hierdie kebabs word varkvleis en appel gekombineer – ʼn bekende kombinasie. Suurlemoen is ʼn geurmiddel wat uitstekend by albei bestanddele pas en wanneer appel in ʼn soutgereg gebruik word, is tiemie ideaal. Vark en tiemie is ook ʼn bekende kombinasie en as hierdie elemente dus alles saam gebruik word, is dit sommer nog lekkerder, sonder dat dit ʼn gekompliseerde resep verg. Die kebabs kan oor die kole of in ʼn pan gerooster word, maar braai dit net tot dit gaar en steeds sappig is. Die vleis moet glad nie droog wees nie.

Die boneslaai wat in dié week se #kosblik gepak word, is blitsvinnig om te maak. ʼn Blikkie bone word gedreineer en dan met feta, songedroogde tamaties en sonneblompitte gegeur. Die gemarineerde tamaties is baie geurig en jy kan sommer die marinade as slaaisous gebruik.

Varkkebabs met appel

Resep aangepas uit Cooking from the Heart

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 2 e (30 ml) suurlemoensap
  • 2 e (30 ml) olyf- of avokado-olie
  • 2 e (30 ml) gekapte vars tiemie of origanum
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • swartpeper na smaak
  • 500 g varkboud of -skouer, oortollige vet verwyder en in blokkies gesny
  • 1 rooi soetrisse, ontpit en in stukkies gesny
  • 1-2 Pink Lady®-appels met die skil aan, ontpit, in agstes gesny en elk gehalveer

Metode:

  1. Meng die suurlemoensap, olie, kruie, sout en peper saam.
  2. Plaas die vleis in ʼn mengbak en bedek met die marinade.
  3. Marineer vir 30 minute tot 1 uur.
  4. Ryg vleis, soetrissie en appelblokkies op kebabstokkies. Braai oor matige kole en verf die kebabs met van die marinade terwyl dit vir 8-10 minute braai of tot net gaar – die vleis moet steeds sappig wees en die appel net gaar. Die kebabs kan ook oor matige hitte in ʼn pan gebraai word.

Witboneslaai met feta en songedroogde tamaties

Meng die volgende bestanddele saam vir ʼn vinnige slaai wat as stysel vir ʼn maaltyd of kosblik geniet kan word. Dreineer 1 x 410 g-blik witbone en meng met ’n skyf feta, in blokkies gesny; 6-8 gemarineerde songedroogde tamaties, in repies gesny; ’n groot handvol roketblare of ander kruie van jou keuse en sonneblomsade. Gebruik die tamatie-marinade as slaaisous, indien verkies of gebruik ʼn skeut olyfolie as slaaisous.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte met bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.