Soorte resepte:

Suid-Afrikaanse sjef verlei Amerikaners met boerekos

Foto: Verskaf

Sjef Ivan Giani . Foto: Verskaf

ʼn Suid-Afrikaner verower Amerikaners se harte met tradisionele disse en lekkernye soos bobotie en melktert.

Sjef Ivan Giani woon tans in Houston,Texas, en is een van die sjefs by ʼn restaurant genaamd Springbok.

Ivan sê hulle maak soms tradisionele geregte soos wat sy ouma dit sal voorberei, maar soms word die resepte wel aangepas vir die Amerikaanse palet. Een só ʼn gereg is sy bobotie-pastei, ʼn gereg wat baie gewild is. Baie van die disse is ook ʼn kombinasie van Amerikaanse en Suid-Afrikaanse disse soos pap, garnale en tamatie-uie-smoor.

Ivan het aanvanklik musiekteater studeer en as danser met verskeie produksies oorsee gereis. Die lewe het met hom wye draaie geloop, want toe hy weer kyk, bevind hy hom in ʼn restaurant in Texas. Dié koskenner het vir die afgelope agt jaar die leertjie geklim van kelner tot sjef en uiteindelik sy plek in die Springbok-restaurant se kombuis gevind.

As jy bereid is om hard te werk, om opofferings te maak, sal jy sukses behaal – dit is hoekom ek so lief is vir die kombuis.

Ivan het in talle restaurante gewerk, en is aanvanklik deur die eienaars van die Springbok-restaurant genooi om net vir ʼn week saam met die restaurant se sjef te kook om hom te leer om tradisionele geregte soos koeksisters, vetkoek en bobotie te maak.

“Ná daai week het hulle my gebel en vir my ʼn pos aangebied,” sê Ivan.

Volgens Ivan is die malvapoeding en melktert ook treffers by dié restaurant. Hy sê hy meet die standaard van sy kos nie teen die Amerikaners se reaksie nie, maar teen dié van die Suid-Afrikaanse kliënte.

“Amerikaners weet mos nie hoe Suid-Afrikaanse disse moet smaak nie, maar as Suid-Afrikaners vir my sê dit was lekker, dan weet ek, ek het goeie werk gedoen. Dit is hoe ek myself meet.”

Hoewel hulle alle disse self voorberei en maak, is daar sommige produkte wat net nie vervang kan word nie.

“Ons het ʼn verskaffer waar ons eg Suid-Afrikaanse produkte soos Mrs Ball’s-blatjang en mieliemeel aankoop. As Suid-Afrikaners by ons restaurant kom eet, gaan hulle mal as hulle dit sien.”

Die span by die Springbok-restaurant is passievol oor kosmaak en Ivan sê hulle is baie ernstig as dit kom by gehalte.

“Ons glo nie daaraan om vleis te bevries nie. Dit is hoekom ons elke week 60 kg boerewors  en 80 kg biltong maak. Ons kos is vars en organies.”

Ivan was al op verskeie Amerikaanse oggendprogramme, asook die televisiereeks, Chopped. Besoek Springbok-restaurant se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Adri ·

Kos proe nie lekker nie, dit smaak lekker en ek proe of dit lekker smaak.

Landi Slatter ·

Dagsê Adri

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

MH ·

Dagsê Adri,

Dis mooi om te sien dat iemand sy taal repekteer. Moet jou asseblief nie laat afsit deur die negatiewe kommentaar van brabbelaars en ander taalverkragters nie.

Hendrik ·

My ervaring met die Amerikaners in die Mid-Weste is dat hulle oor die algemeen nie juis baie avontuurlustig is as dit by kos kom nie. Alles, selfs die brood, is oor-soet. ‘n Melktert moet werklik stroopsoet wees voor hulle daarvan hou. Terloops, daar is geen verskil in smaak of voedingswaarde van organiese kos teenoor ander kos nie. Talle wetenskaplike artikels het dit reeds bevind en 80% van wetenskaplikes stem daarmee saam. Verder besef die publiek nie dat organiese boere ook plaagbeheermiddels in hulle produksieproses gebruik nie. Van hierdie middels is baie meer toksies as die wat ons konvensionele boere gebruik. Organiese kos is dus ook nie noodwendig gesonder as konvensioneel geproduseerde kos nie.

SkarrelKind ·

Sjoe Hendrik – jy maak wilde aannames. Ek is nuuskierig hieroor, asb gee my “links” waar ek oor organiese gifstowwe kan lees. Ek was onder die indruk minimale gif wat beter vir mens en dier is word vir organise gewasse gebruik. Ek dink net, in hoeveel moeilik sal Woolworths hulle byvoorbeeld bevind as hulle jok oor organies??

Hendrik ·

Skarrelkind,
Gaan Google bietjie die VSA se regulasie 205.601 in hulle Electronic Code of Federal Regulations. Ongelukkig kry ek nie die skakel vir “ingecopy” in die boodskap nie. Nog ‘n goeie bron is http://www.gmoanswers.com waar akademici jou vrae oor die onderwerp kan beantwoord. Kopersulfaat is een van die middels wat wyd in organiese boerdery gebruik word. Dit het ‘n LD50 van 30 mg/kg vir soogdiere. Vergelyk dit met glifotaat (die aktiwe bestanddeel van Roundup) se LD50 van so by die 5000 mg/kg. ‘n Lae LD50 is baie giftig. Die organiese industrie gebruik dus baie giftige middels. Soek gerus die inligting op – die organiese bedryf is een groot bemarkingsfoefie.

Waarheid ·

Doen so voort Ivan maak boerekos met trots. Sterkte.
Organiese klasifikasie is geldmaakstorie kort beter Beheer/kontrole.. waars verbruikersraad.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.