Soorte resepte:

[Video] Herman Lensing stel kosboek bekend, deel feesgunstelinge

Herman Lensing (Foto: Facebook)

Verkeersopeenhopings en lang werksure is gʼn verskoning vir wegneemetes nie, het die bekende koskenner Herman Lensing Vrydag ferm laat hoor. Sy leuse is eenvoudig: “Jy benodig nét 30 minute om ʼn dis voor te berei wat iemand anders se lewe kan verander.”

Lensing, onder meer die redakteur van Sarie Kos en aanbieder van Inspirasiekos met SARIE op Via, het vandeesweek sy derde en jongste resepteboek, 30 – 30-minute-resepte, wenke en wyshede, by die Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom bekend gestel.

Sy eerste twee boeke – Voorskoot en Nog ʼn voorskoot – was albei ʼn dawerende sukses en het van hom ʼn gerekende koskenner en gewilde persoonlikheid gemaak.

“Ek het ʼn lysie gehad van dinge wat ek moet doen voor ek 30 word. Daar was fabulous dinge op die lys soos dat ek Cher wou sien optree, ʼn Gucci-snyerspak besit en drie kookboeke agter my naam sal hê. Die hele boek is gebou rondom 30 – dit bestaan onder meer uit dinge wat niemand vir jou sê voor jy 30 word nie, wyshede wat jy langs die pad leer en resepte wat net 30 minute neem om voor te berei,” vertel hy.

Lensing se nuwe kosboek (Foto: Facebook)

Dié boek sal veral werk vir diegene wat lang ure in die verkeer deurbring, nié ʼn trofee in die kombuis sal (of wil) wen nie en dikwels min tyd het om te kook, maar steeds hul gaste wil wegmoffel met geure en smake van bobaasdisse wat geskep kan word met alledaagse bestanddele.

“Jy het net 30 minute nodig om dié geregte voor te berei en iemand anders se lewe te raak met ʼn wonderlike dis. Dis vir my wonderlik om die terugvoer te hoor. Mense is op soek na resepte wat toeganklik en maklik is – en dis wat die boek bied.”

30 – 30-minute-resepte, wenke en wyshede is beskikbaar in alle goeie boekwinkels landwyd. Vir meer inligting, besoek Lensing se Facebook-blad.

WEN: Drie lesers staan elk die kans om Lensing se nuwe kosboek te wen. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, woonadres en jou antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Hoeveel kookboeke het Lensing al bekend gestel? Inskrywings sluit 10 Oktober. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Bepalings en voorwaardes geld.

Aardklop word nog tot 8 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies vir alle produksies is beskikbaar by Computicket. Toegang tot die feesterrein op Die Bult kos R20. ʼn Weekkaartjie sal jou R60 uit die sak jaag. Vir meer inligting, besoek Aardklop se webwerf.

Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Ek geniet Herman se TV reeks geweldig. Sout van die aarde seun.

Toy ·

Ek net so. Hy maak die lekkerste kos. Dit is ook nie ingewikkeld ni.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.