Soorte resepte:

[Resep] Slootbrood

sloot-brood

Slootbrood. Foto: Uitgerys.

Ek het vir Christina Gall by Upington se !Nabafees ontmoet. En daar vir die eerste keer slootbrood gesien. Volgens Christina eet die mense in Namakwaland al vir jare hierdie roosterkoek-variasie. Sy wys my toe hoe om dit te maak, sodat ek die resep met ander bakkers kan deel.

Tradisioneel word slootbrood voorgesit met gebraaide boerewors en tuisgemaakte tamatiesmoor. Ek sluit dus ook my tamatiesmoorresep in. Die slootbrood word oor warm hitte gaargemaak. Werk vinnig, sodat jou hande nie brand nie.

Lewer 10 slootbrode

Bestanddele:

Deeg

  • 1 kg koekmeel
  • 7,5 ml sout
  • 1 pakkie (10 g) kitsgis
  • 575 ml louwarm water
  • 250 ml (130 g) koekmeel vir knie

Tamatiesmooruitgerys 

  • 25 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 1 groot ui, in blokkies gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 blikkies (410 g elk) tamatie-en-uiesmoor
  • 30 ml worcestersous
  • 15 ml blatjang
  • 10 ml asyn
  • sout en peper na smaak

Metode: 

Deeg

1. Meng die koekmeel, sout en gis saam in ʼn skottel van 35 cm in deursnee.

2. Voeg 100 ml water op ʼn slag by. Gebruik die hand waarmee jy die water byvoeg om die skottel vas te hou en antikloksgewys stadig in die rondte te draai, terwyl jy met die ander hand die water by die meel inwerk. Die deeg begin as droë krummels, maar ná elke byvoeging van water raak dit natter tot die deeg eindelik te klewerig is om mee te werk.

3. Lig die nat deeg vanaf die skottel se boom, strooi ʼn bietjie koekmeel onderin en knie die deeg met een hand – deur dit van buite na binne in te werk terwyl jy steeds die skottel met die ander hand antikloksgewys draai. Hou aan knie – sowat 15 kniesessies – tot jy ʼn egalige deegbal het (dit is nie ʼn gladde deegbal nie).

4. Vou die deeg in ʼn netjiese bal en druk die onderkant vas. Draai dan die deegbal om sodat die gladde kant bo is.

5. Bedek die skottel met ʼn plastieksak en laat rys deeg op ʼn warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 minute. Steek intussen die vuur aan.

6. Knyp 10 deegballe van 160 g elk af. Plaas ʼn deegbal op ʼn meelbestrooide werkoppervlak en rol met jou vingerpunte uit in ʼn lang wors van 19 cm lank. Druk plat om ʼn reghoek te vorm. Rol deeg van die lang kant al op en druk die naat stewig vas. Herhaal met die ander deegballe.

7. Plaas op die rooster en braai sowat 4 minute tot drie keer die volume, en goudbruin aan die een kant. Draai om en braai sowat 3 minute tot goudbruin aan die ander kant. Plaas die slootbrood teenaan mekaar, op hul sye, en braai die kante tot goudbruin.

Tamatiesmoor

1. Verhit die botter en olie. Braai die uie en knoffel tot sag.

2. Voeg die tamatiesmoor, worcestersous, blatjang en asyn by en verhit tot kookpunt. Geur met sout en peper. Verlaag die hitte en laat prut sowat 10 minute tot geurig en dik.

3. Haal die gaar slootbrood van die vuur af en sny oop.

4. Sit voor saam met gebraaide wors en tamatiesmoor – soos ʼn worsrolletjie.

Bron: Uitgerys deur Mareli Visser
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R300.00
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sonja ·

Ek stem Jakes, niks anders as n plein boere bun met n stuk boerewors in nie.

Waarheid ·

Stem ook saam..net met verskil die PRYS om te maak of praat nié eers van klaar een koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.