Caster op randjie van Olimpiese rekord vir SA atleet

Caster Semenya. Foto: AP Photo/Anja Niedringhaus, File

Caster Semenya. Foto: AP Photo/Anja Niedringhaus, File

Caster Semenya, Suid-Afrika se goue medalje-wenner in die 800 m in Rio de Janeiro, kan binnekort ʼn nuwe ‘rekord’ as Suid-Afrikaanse Olimpiese medaljewenner agter haar naam skryf.

Semenya sal na verwagting nou die goue medalje kry nadat die wenner van die 800 m by die 2012 Olimpiese Spele, Rusland se Mariya Savinova-Farnosova, positief getoets het vir die gebruik van ’n verbode middel.

Die internasionale hof vir arbitrasie in sport het Vrydag aangekondig dat Savinova-Farnosova vir vier jaar uit atletiek geskors is en haar goue medalje moet teruggee. Haar skorsing geld vanaf Augustus verlede jaar.

Indien die 2012 goue medalje wel aan Semenya toegeken word – en dit blyk ʼn formaliteit te wees – sal sy die eerste Suid-Afrikaanse atleet wees wat twee Olimpiese goue medaljes in haar trofeekas het. Dit is wel al in ander sporte vermag.

Sy sal daarmee ook die eerste SA atleet wees wat sedert die oorwinning van Josia Thuwane in die 1996 Spele in Atlanta goud in atletiek wen.

Savinova-Farnosova het die wedloop in Londen in 1:56,19 gewen met Semenya wat tweede met ʼn tyd van 1:57,23 was.

Die derde atleet in die Londense 800m, Ekaterina Poistogova, ook van Rusland, is vroeër ook deur die internasionale hof vir arbitrasie in sport van haar medalje gestroop en lewenslank geskors.

Dié twee is van die vele Russe wat hul 2012 Spele- en ander medaljes kwyt is en bygedra het tot die skorsing van alle Russiese sportlui uit van die wêreld se vernaamste sportbyeenkomste.

♦  In atletiek het Suid-Afrika sedert die land in 1904 die eerste keer deelgeneem en ook die eerste goue atletiekmedalje deur Reggie Walker in die 100 m gewen het, nog net agt keer goud gewen. Semenya se medalje sal die negende wees.

Dit is interessant dat die langasems, insluitende Thugwane, twee van die huidige agt goue medaljes gewen het.  Ken McArthur het in 1912 in Stockholm gewen met sy Springbok-spanmaat Christian Grisham tweede.  In 1908 het Charles Hefferon ook ʼn silwer medalje gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Interessant dat “Suid-Afrika” in 1904 aan die Spele deelgeneem het. Daar het in 1904 dan nog nie amptelik ‘n land soos “Suid-Afrika” bestaan nie, of wel? Seker vir die Spele se doeleindes besluit om die vier kolonies saam te gooi?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.