Ernie vaar beste, maar die ander kry swaar in die Britse Ope

Louis Oosthuizen in die sandkuil tydens die tweede ronde (Foto: Facebook compleatgolfer)

Die eerste twee rondes van die Britse Ope by Royal Birkdale was die Suid-Afrikaanse spelers glad nie goedgesind nie.

Vier van die nege wat Donderdag afgeslaan het, het nie die valbyl oorleef wat op vyf houe oor syfers vasgestel is nie.

Ernie Els is die voorloper van die Suid-Afrikaners op ʼn dag waar hy nie ʼn enkele voëltjie behaal het nie en drie houe aan syfer afgestaan het. Met  sy 73 in die tweede ronde saamgetel by sy twee onder op die eerste dag, is Els op 141 nou gesamentlik 20ste – sewe houe swakker as die alleenvoorloper Jordan Spieth (134) wat een onder vir die tweede ronde en ses onder vir die toernooi gespeel het.

Els het in die tweede ronde weer met sy bofhoue gesukkel waarvan net 44% op die skoonveld geland het.

♦  Charles Schwartzel het ʼn nagmerrie oor veral die tweede nege gehad. Ná sy goeie vier onder in die eerste ronde, het hy Vrydag 36 (twee oor) oor die eerste nege gespeel, wat ʼn dubbele brousyfer, nog ʼn hou wat afgestaan is en ʼn voëltjie ingesluit het.

Maar toe raak Schwartzel die kluts kwyt, speel net op vier putjies gelyk aan syfer, en vul weer ʼn dubbele brousyfer op sy telkaart in plus nog vier tellings waar hy ʼn hou op ander putjies laat val het.

Sy nagmerrie-78 was nietemin om hom te laat kwalifiseer, maar enige wenkans is daarmee heen met sy vier oor-telling van 144 – tien agter die voorloper Spieth.

♦  Die winderige en soms kwaai reën het die tellings aansienlik geaffekteer en die vier onder 66 van Zach Johnson was die beste met ʼn paar manne wat ook twee minder as baansyfer gespeel het. Net agt spelers het minder as syfer aangeteken, en Spieth, Rory McIlroy en Gary Woodland is die enigstes wat dit in albei rondes vermag het.

♦  Brandon Grace het sy goeie 70 op die eerste dag met vier oor bederf en staan op 144. Brandon Stone (twee oor Donderdag) en  Shaun Norris (vier oor in die tweede ronde) het hul twee rondes op die valbylsyfer van vyf oor voltooi.

♦  Dylan Fritelli en Jbé Kruger, albei op 148, is saam met Louis Oosthuizen wat die ergste van die reënweer getref en met sy 74 op 152 te staan gekom het en Darren Fichardt, uit die laaste twee rondes. Oosthuisen en Fichardt was gesamentlik tiende laaste van die spelers wat in die ope afgeslaan het.

Die eerste spelers slaan Saterdag om 10:20 af.

Klik op die skakel om  volledige inligting oor die Ope te kry: https://www.theopen.com/Leaderboard#!/traditional

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.