Federer klop Nadal in vyf rillerstelle in Aussie Ope

Roger Federer het sy aantal Grand Slam-titels na 18 opgestoot Foto skeeda

Roger Federer het sy aantal Grand Slam-titels na 18 opgestoot Foto skeeda

Roger Federer het Sondag in Melbourne sy 18de Grand Slam en sy vyfde Australiese Ope-titel gewen toe hy Rafael Nadal in vyf stelle geklop het, 6-4, 3-6, 6-1, 3-6, 6-3.

Albei spelers het van hulle heel beste tennis vir die geleentheid uitgehaal hoewel daar baie ongedwonge foute gemaak is. Federer het dubbeld soveel foute as Nadal gemaak maar ook amper dubbeld soveel wenners geslaan.

Die telling het in die rillerstryd deurgaans wipplank gery. Federer was voor in die vierde stel maar Nadal het ʼn vyfde stel afgedwing. Federer moes, na afloop van die vierde stel, net soos in sy wedstryd teen Stan Wawrinka, weer mediese aandag van die baan af kry.

Nadal het vroeg in die vyfde stel op Federer se afslaan deurgebreek en dit het gelyk of dit genoeg sou wees om die wedstryd te wen. Federer het egter in die sesde pot teruggebreek en beheer oor die wedstryd oorgeneem en tien punte na mekaar ingepalm, insluitende ʼn volgende deurbraak op Nadal se afslaan om  die telling 5-3 te maak

Hy moes twee breekpunte afweer maar het uiteindelik die wedstryd met ʼn kishou en ʼn voorarmwenner beklink wat deur Nadal verwys was maar marginaal die lyn gesny en dus in was.

Federer se vreugde is gekenmerk deur die wyse waarop hy na die wenpunt op en af gespring het, nie kentekenend van sy aard nie, en aan die trane in sy oë.

Dit was die 35-jarige Federer se eerste titel in ʼn Slam-toernooi sedert hy in 2012 by Wimbledon  met die groot prys weggeloop het.

Federer het ses van sy vorige agt Grand Slam-eindstryde wat hy teen sy Nadal gespeel het, verloor en hy het die Spanjaard net 11 keer in hulle 34 wedstryde teen mekaar geklop.

♦ Albei spelers het hul teruggekeer by die toernooi gemaak nadat hulle lank nie gespeel het nie. Federer se linkerknie is geopereer en Nadal het ʼn gewrigbesering gehad.

Nie een van die twee het verwag om die eindstryd te haal nie. Federer was 17de gekeur en Nadal negende.

Die vroeë neerlae van die twee topgekeurdes, Andrew Murray en Novak Djokovic, het die twee finaliste wat die meeste Grand Slams gewen het weer nuwe lewe gegee.

Die 2017 Australiese Ope  was werklik merkwaardig in die sin dat die ouer garde weer om die titels meegeding en gewen het.

In die vroue-enkelspel was die finaliste Serena Williams (35) en haar suster Venus (36) soos Federer (35) en Nadal (30) almal aan die verkeerde kant van hul 30ste verjaarsdag, met die twee 35-jariges wat met die onderskeie titels weggestap het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan ·

Jig, is daar nie ‘n mooi Afrikaanse woord vir ‘slam’ nie????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.