Groentjie en ‘veteraan’ wen Twee Oseane-titels

Jenna Challenor, tweede, die vrouewenner Maryna Damantsevich en Tanith Maxwell wat derde was in Saterdag se Twee Oseane-wedloop (Foto: Facebook)

Die Twee Oseane-ultramarathon se vernaamste titels is Saterdag deur ʼn groentjie en ʼn ‘veteraan’  gewen – miskien nie ʼn veteraan in atletiekterme nie, maar in die wyse waarop hy die wedloop benader het.

Die Belarus Maryna Damantsevich, in haar eerste Twee Oseane-wedloop, het met die grootste gemak die wedloop in 3:37:13 gewen, meer as tien minute voor Suid-Afrika se Jenna Challenor wat in 3:47:32 tweede was. Tanith Maxwell was derde in 3:55:42.

Maar die grootste verrassing was stellig die manswenner, miskien nog meer so as Damantsevich, ʼn gerekende oorsese atleet.

Suid-Afrika se Lungile Gongqa (38) was die wenner in 3:09:43. Dit was slegs die tweede keer dat die Olimpiese marathonatleet die Twee Oseane aangepak het. In 2012 het hy in die 29ste plek klaargemaak.

By die halfpadmerk van die manswedloop was daar nog ʼn groot groep atlete in ʼn bondel en dit was eers ná 52 km dat Gongqa die voortou oor die laaste vier kilometer geneem het. Hy het met net meer as 30 sekondes gewen met twee atlete van Lesotho wat die ander podiumplekke gekry het. Warinyane Lebopo was tweede (3:10:21) en Teboho Sello derde (3:11:48).

In die manshalfmarathon was Namakoe Nkasi van Lesotho eerste oor die wenstreep in ʼn tyd van 63:15, met sy landgenoot Khoarahlane Seutloali tweede (63:45) en derde was Suid-Afrika se David Manja in 64:19.

♦  Damantsevich het van die begin af ʼn vinnige pas gehandhaaf en was ná 21 km reeds  10 minute voor.

Die verdedigende kampioen, Suid-Afrika se Caroline Wöstmann, het ná 11 km met ʼn dyspierbesering aan die wedloop onttrek. Hoe dit haar voorbereiding vir die Comrades vroeg in Junie gaan beïnvloed, is onseker, maar sy het ná die wedloop gesê dat die dyspier haar gepla het en dat sy seker is dit was die regte besluit om halt te roep.

In die 21 km-wedloop vir vroue het Suid-Afrika die eerste drie plekke verower. Irvette van Zyl (73:53) het haar titel behou, Nolen Conrad (74:27) was tweede, gevolg deur Louisa Leballa in 75:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert ·

In SA atletiek terme is n veteraan tussen ouderdom 40 en 49. Ouderdom 38 is n Senior.

Wim van der Berg ·

Veteraan in `n kategorie is wel oor 40 in atletiek. Hier word bloot bedoel hy is ervare en nie `n jongeling nie.
Ons verander dit nietemin reg om verwarring te voorkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.