Netbal se Premierliga skop die naweek af

Die vierde jaarlikse Brutal Fruit Netbal-premierliga (BFNPL) begin Vrydag in Durban waar die nege provinsies en ʼn tweede span van Gauteng vir die volgende ses naweke  teen mekaar sal meeding.

Vanjaar is daar nog meer as net die titel op die spel aangesien die kampioenspan Nieu-Seeland toe sal reis om daar aan dié land se nasionale kampioenskap deel  te neem.

Na die eerste twee rondes verskuif die aksie na Kaapstad en dan na Bloemfontein. Die uitspeelwedstryde word in die laaste twee naweke beslis.

Die wenners die afgelope drie jaar  van dié senior provinsiale toernooi, die Vrystaat Crinums, sal hulle titel verdedig maar die spanne het almal groot skommeling in hulle spelersgroepe ondergaan en die kompetisie is dus oop en onvoorspelbaar.

Die Crinums het nie meer vir Karla Mostert en Lauren-Lee Christians in hulle groep nie. Mostert gaan in Australië in ʼn nuwe liga speel en Christians het Oos-Londen toe verhuis waar sy vir die Oos-Kaapse Aloes sal speel.

Maryka Holthausen, die voormalige Proteakaptein en kaptein van die Crinums, sal die eerste drie rondes misloop weens die kniebesering wat sy in Augustus verlede jaar by die nasionale kampioenskap opgedoen het. Sy het kruisligamente in haar regterknie geskeur.

Alicia Puren sal die Crinums in Holthausen se plek aanvoer.

Saterdag speel die Crinums teen die Noord-Gautengse Jaguars wat die afglope drie jaar die tweede plek in die kompetisie ingeneem het.

Die Jaguars van Noord-Gauteng het net vyf van hulle spelersgroep van 15 behou. Hulle sal sonder drie Protea-doelskieters moet klaarkom.

Lenize Potgieter speel in ʼn Nieu-Seelandse liga, Lindie Lombard sal vir die Fireballs in die Premierliga  speel en Melissa Kotze het uitgetree. Saam met al die ander verliese en nuwe aanwinste is dit inderwaarheid ʼn nuwe span.

Die Protea, Erin Burger, sal ook nie vir die Stings kan speel nie aangesien sy in Australië in die Super Netballiga vir die Queensland Firebirds speel.

Die Flames se Sigi Burger is beseer en van hulle ander spelers het ook van provinsie verander.

Die naweek se wedstrydbepalings –

Vrydag:
Limpopo Baobabs vs Mpumalanga Sunbirds; Oos-Kaapse Aloes vs KZN Kingdom Stars

Saterdag:
Noord-Kaapse Diamonds vs Noordwes Flames; Gauteng Golden Fireballs vs Southern Stings; Vrystaatse Crinums vs Gauteng Jaguars

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.