Netbalkampioen val twee keer vas op eerste naweek

Die afgelope drie jaar se kampioenspan, die Crinums van die Vrystaat, het op die eerste naweek van Brutal Fruit se Premier-netballiga twee keer vasgeval.

Die Crinums is Saterdag deur die Gauteng Jaguars geklop en het Sondag teen die Golden Fireballs van Suid-Gauteng verloor.

Saterdag het die Jaguars in die wedstryd tussen die twee spanne wat die afgelope drie jaar in die eindwedstryd teen mekaar uitgespeel het, uit die staanspoor oorheers. Hulle was rustyd reeds 29-20 voor en het die wedstryd met 48-37 gewen.

Die afrigter van die Crinums, Burta de Kock, was heel filosofies oor die nederlaag en het gesê dat hulle al voorheen teen die Jaguars in die rondomtalie-rondes verloor het net om hulle in die eindwedstryd te klop.

Die Crinums het Sondag ook teen die Fireballs van Gauteng met 34-53 verloor.

Die Jaguars het Sondag maklik teen die Sunbirds van Mpumalanga gewen, 63-20, en lyk na twee wedstryde na een van dié spanne in die reeks.

♦  In die opwindendste wedstryd van die naweek het die Suid-Gautengse span, die Golden Fireballs teen die Southern Stings van die Wes-Kaap verloor. Die Kapenaars het met 46-39 gewen in die spannende wedstryd waar die telling met die aanvang van die vierde kwart nog gelykop met 31 doele elk was.

♦  In die eerste wedstryd van die 2017-reeks het die Limpopo Baobabs teen die Mpumalanga Sunbirds te staan gekom. Vir die span van Limpopo was hulle oorwinning van 42-37 ʼn groot vreugde nadat hulle verlede jaar laaste in die liga was en die Sunbirds agtste.

♦  Die Aloes van die Oos-Kaap het hulle wedstryd teen die Kingdom Stars van Kwazulu-Natal met 38-30 gewen. Dit was soete wraak vir hulle nadat hulle verlede jaar sleg teen die Kingdom Stars verloor het.  Die rustydtelling was 17-17, maar in die laaste twee kwarte was die fiksheid van die Aloes deurslaggewend.

♦  Die Noord-Kaap se Diamonds het ʼn beroerde eerste wedstryd gehad toe hulle met 20-71 deur die North West Flames oorrompel is.

Die Diamonds se afrigter Maria Meyer was veral teleurgesteld oor hoe haar span begin het. Hulle het eers na tien minute hulle eerste doel kon aanteken. Sy wys daarop die dit ʼn jong span is en hulle sal sekerlik vorentoe verbeter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.