SA atlete spring, hardloop die wêreld aan die brand

Luvo Manyonga kort nadat hy ‘n silwermedalje by die 2016 Olimpiese Spele in Rio verower het. (Foto: AP Photo/Martin Meissner)

Die fokus-items  by die Senior Atletiekkampioenskappe die afgelope naweek in Potchefstroom voor ʼn volgepakte stadion het nie teleurgestel nie.

En as die naweek se prestasies as maatstaf tel is Suid-Afrika verseker besig om te verbeter op sy atletiekkrag na  sy goeie vyfde plek by die Rio Spele se atletieknommers.

Akani Simbine het Saterdag sy status as wêreldgehalte-naelloper herbevestig  deur ʼn blitsige 100 m in 9.9 s met Wayde van Niekerk wat tweede was in 10.04 s en Thando Roto derde met dieselfde tyd as Van Niekerk.

Van Niekerk, SA se 400 m-wêreldrekordhouer, het in die 200 m die bordjies teen Simbine verhang deur die wedloop in 19.90 s te hardloop – vanjaar se vinnigste wêreldtyd.  Hy het sy persoonlike beste met 0.05 s verbeter wat vir hom ʼn verdere aansporing is in sy strewe om by die Wêreldkampioenskap in Augustus die dubbelgoud in die 200 m en 400 m te wen.

Simbine was Saterdag tweede in die 200 m (20.15 s) en die briljante junior, Gift Leotlela (20.20 s) het die derde plek ingeneem.

Van Niekerk se tyd gee nou aan Suid-Afrika die voorste vyf 200 m-wêreldtyde vir 2017. Simbine (19.95 s), Munyai (20.10 s), Ncincihli Titi (20.14 s) en Gift Leotlela (20.20 s) is die ander uitblinkers.

♦  Luvo Manyonga, die Olimpiese silwermedaljewenner, het sy eie Suid- Afrikaanse en Afrikarekord in die verspring met 3 cm verbeter. Hy het met sy eerste sprong 8.65 m gehaal en toe weens ʼn liesbesering nie verder deelgeneem nie.

Manyonga se sprong is die tweede beste vanjaar en die 11de beste sprong nóg in die wêreld.  Ruswahl Samaai het silwer gewen met sy sprong van 8.49 m, vanjaar se tweede beste sprong ter wêreld.

♦  Caster Semenya het haar nasionale titels in die 400 m (51.60)  en 800 m (2:01.03) behou en sy het bevestig dat sy volgende week όόk aan die 1 500 m by die SA Studente-kampioenskappe in Kaapstad  sal deelneem.

♦  Orazio Cremona het ʼn afstand van 21.12 m in die gewigstoot behaal. Na Janus Robberts is hy slegs die tweede Suid-Afrikaner wat meer as 21 m gestoot het.

♦  Die 400m is deur Pieter Conradie in 45:15 s gewen, wat vanjaar die sesde vinnigste tyd ter wêreld is. Ranti Dikgale was tweede.

♦  Alyssa Conley het al twee haar naellooptitels behou. Sy het 11.4 s in die 100m gehardloop en ook die 200 m gewen. Die gunsteling, Carina Horn moes weens ʼn besering onttrek nadat sy 11.10 s in die 100 m-uitdunrondes gehardloop het.

♦  Rynardt van Rensburg het die 800 vir mans gewen, Le Roux Hamman het die tweemalige Afrika-kampioen LJ van Zyl in die 400 m-hekkies geklop, Sunette Viljoen het oudergewoonte haar spiesgooititel behou en Chris Harmse is die 22ste opeenvolgende jaar as die hamergooikampioen gekroon.

Harmse se 22 titels is die meeste in  Suid-Afrikaanse atletiekgeskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janie Monsieur ·

Dagsê Piet,
Dankie vir jou kommentaar en jammer vir die glips. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.