Serena klop Venus, oortref Steffie Graf se rekord

Venus en Serena Williams. Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Venus en Serena Williams. Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Serena Williams het haar ouer suster, Venus, Saterdag in die Australiese Ope tenniskampioenskap in Melbourne in skoon stelle 6-4, 6-4, geklop en daarmee Steffi Graf se rekord van 22 Grand Slam-titels in die Ope-era oortref.

Dit is ʼn mylpaal wat vir haar baie belangrik was.

Sy sal egter nog baie graag twee Slams tot haar totaal wil byvoeg, want voor die Ope-era het Margaret Court 24 titels gewen.

Serena het die eerste stel ietwat onseker begin en haar eerste twee afslaanpotte verloor. Sy het ook drie dubbelfoute in die vierde pot gemaak wat die telling gelyk gehou het. Venus het nie veel beter gevaar nie, en Serena het in die eerste stel drie keer op haar afslaan deurgebreek.

Die susters het saam 29 ongedwonge foute in die eerste stel gemaak. Serena het, ná na sy op die agterbaan gegly het, haar frustrasie op haar raket uitgehaal en dit amper gebreek. Maar sy het, ondanks haar swak begin, die eerste stel met redelike gemak 6-4 gewen.

Serena het in die tweede stel, nadat die telling volgens afslaan drie-elk was, ʼn rat opgeskuif, op haar suster se afslaan deurgebreek en daarna nie weer gelyk of sy sou verloor nie.

Die wedstryd het in die geheel nie werklik aan die verwagting voldoen nie. Die tennisgeskiedenis wat gemaak is, was meer opwindend as die tennis self.

♦  Serena het met die oorwinning ook haar sewende Australiese Ope-titel gewen en haar eerste posisie op die ranglys herwin nadat sy dit in September aan Angelique Kerber afgestaan het toe Kerber die Amerikaanse Ope gewen het.  Serena was 186 weke lank die nommer een.

♦  Serena loop nou 17-11 voor in wedstryde teen haar suster. Dit sluit ʼn 10-5 voorsprong in Grand Slam-wedstryde in.

♦  Venus was in 2008 laas in ʼn Grand Slam-eindwedstryd. Sy is in 2011 met  Sjogrense sindroom gediagnoseer en het verlede jaar weer op die voorgrond getree toe sy die halfeindronde by Wimbledon gehaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.