Storm storm voort, maar Rory en twee van SA op sy hakke

Rory McIlroy. Foto: Michael Sherman/ANA

Rory McIlroy. Foto: Michael Sherman/ANA

Die Engelsman, Graeme Storm, het Vrydag die Glendowerbaan in die tweede ronde aan die brand gespeel en met 63, gelyk aan die baanrekord, die voortou geneem met ʼn telling van 132. Dit is 12 houe beter as syfer.

Storm het geen houe laat val nie en nege voëltjies ingerol. Hy is twee houe voor Peter Uihlein van die VSA, wat Vrydag twee houe minder as baansyfer gespeel het en die twee Suid-Afrikaners, Jbe’ Kruger (-5 Vrydag) en Trevor Fisher Jnr. (-4) wat op 134 gesamentlik in die tweede plek is.

Die Noord-Ier, Rory Mcllroy, het op die tweede putjie ʼn brouhou gespeel en die vierde met twee houe oor syfer voltooi. Ondanks die swak begin, het hy binne ʼn hou van Storm gekom, maar toe nog houe op die 17de en 18de putjies laat val. Aan die pluskant was daar sewe voëltjies en ook ʼn arend op die agste putjie (syfer 5) vir ʼn rondetelling van 68 en ʼn tweeronde-totaal van 135.

Mcllroy, die groot gunsteling om op Glendower te wen, is dus op nege onder syfer gesamentlik in die vyfde plek saam met onder meer Keith Horne, -3 in die tweede ronde.

Jaco van Zyl, met  7-onder Vrydag en agt onder syfer vir die twee rondes, het op die 17de putjie ʼn volmaakte gelukhou gespeel, die 16de van sy loopbaan. Dié keer het hy egter ʼn BMW i8-motor ter waarde van sowat R1,9 miljoen gewen.

Hy is nou alleen in die tiende plek, agt onder syfer na twee rondes en net vier houe agter Storm.

Die Hoëveldse blitse en ʼn reënbui het die spelers effens vroeg van die baan verjaag en die ronde sal eers Saterdag voltooi word.

Klik hier vir die tellings na twee rondes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.