Goud vir Chad

Chad le Clos. Foto: AP Photo/Michael Sohn

Chad le Clos het Woensdagaand ʼn goue medalje gewen in die 200 m-vlinderslag by die Wêreldbyeenkoms in Boedapest, Hongarye.

Le Clos is weer koning in dié item nadat hy dit in ʼn tyd van 1 min 53.33 sek geswem het. Le Clos het begin huil terwyl die Suid-Afrikaanse volkslied gespeel en sy ouers toegekyk het terwyl hy op die podium gestaan het.

“Dit was ʼn emosioneel belaaide item en ek het geweet dit gaan moeilik wees,” het Le Clos gesê. Le Clos het die titel verlede jaar tydens die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro aan die Amerikaner Michael Phelps afgestaan en kon nie eens daarin slaag om die podium te haal nie.

Le Clos het net meer as ʼn jaar gelede bekend gemaak dat albei sy ouers teen kanker veg. Hy het gesê sy ma veg weer teen borskanker terwyl sy pa prostaatkanker het.

Le Clos het wêreldbekend geraak nadat hy die wêreldrekordhouer, Michael Phelps, in die 200 m-vlinderslag uitgestof het in 2012.

Cameron van der Burgh het Woensdagaand Suid-Afrika se tweede medalje by die Wêreldbyeenkoms verower toe hy brons in die 50 m-borsslag gekry het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.