Kolwers laat Proteas in die steek in tweede T20-wedstryd

Sri Lanka se kaptein, Angelo Mathews. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Sri Lanka se kaptein, Angelo Mathews. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Die Proteas kan nie die stadige draaiersblad voorhou as verskoning vir hulle kolfgesukkel nie, maar dit is tóg jammer dat die stadige Wanderers-kolfblad Sondag nie meer lopies in die tweede T20-wedstryd gebring het nie.

Maar al was daar nie die gewone opwinding wat baie sesse en lopies in dié krieketformaat bring nie, was daar oorgenoeg drama en spanning.

Suid-Afrika het net 113 lopies aangeteken voordat hulle almal met nog drie balle van die 20 boulbeurte oor uitgehaal is.

Sri Lanka het toe, soos die tuisspan, te dikwels paaltjies met swak oordeel weggesmyt, maar nietemin op 117/7 die oorwinning behaal met nog twee balle oor.

Die held van hulle kolfbeurt was die kaptein Angelo Mathews wat 54 onoorwonne lopies geslaan het. Twee van sy drie sesse het in die laaste boulbeurt gekom toe hy weens ʼn enkelbesering nie kon hardloop nie.

Die Proteas het die loot gewen, eerste gekolf en is uit die staanspoor deur goeie veldwerk en -plasing en bestendige boulwerk aan bande gelê. Op 57/4 ná agt beurte was die Proteas duidelik in  die moeilikheid.

Dit was net Heino Kuun (29) en die kaptein Farhaan Behardien (27) wat enigsins met die kolf oortuig het.

Die kolfblad was stadig en dit het veral die draaiers van Sri Lanka goed gepas. Die bal het nie vinnig na die kolf deurgekom nie en houespel was dus nie moontlik nie, wat veral teen Suid-Afrika se kolwers getel het.

Dit verskoon egter nie die heeltemal te veel ondeurdagte houe van die Proteas nie – en dit is nouliks denkbaar dat tuisspan se kolwers, selfs al ken hulle mekaar nie, soveel swak hardloopwerk tussen die paaltjies kon toon.

Vir die Proteas het Lungi Ngidi weer uitstekend en baie vinnig geboul. Sy 4/19 in vier boulbeurte op die stadige kolfblad het die Proteas onverwags na moontlike wenners laat lyk. Saam met Vrydagaand se twee paaltjies het hy nou ses Sri Lankane in net ses beurte laat stap.

Opsommenderwys: Sri Lanka se kolwers bly ʼn wankelrige spul. Tog jammer die Proteas se manne het dit Sondag oortref!

Die derde T20-wedstryd word Woensdag (18:00) op Nuweland gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos1 ·

Fanie De Villiers het gister gesê dat dit vir hom lyk of die blad vir Sri Lanka voorberei is, om sodoende hulle ‘n kans gun om te wen. Die rede is eenvoudig, as dit so was, as SA gewen het is die reeks gewen en dan is die 3de wedstryd op Nuweland “nutteloos” en baie geld kan verlore gaan. Ek hoop dit is nie so nie, maar die wedstryd het baie verdag voorgekom.

Nico K ·

Dit sal jammer wees as die wedstryd beplan is om deur Sri Lanka gewen te word. maar die toetsreeks was vreeslik vervelig omdat dit so eensydig was. En dit was nie so eensydig omdat Sri Lanka so swak is nie. Dit is maar net so dat hulle nie op ons blaaie kan speel nie. As ons daar speel verloor ons gewoonlik. So om ‘m blad voor te berei wat hulle weer pas maak dit seker net so bietjie meer regverdig.

Anoniem ·

Dit was definitief nie ‘n tipiese Wanderers kolfblad nie en ek stem volkome saam met Fanie dat dit verdag voorkom. Dit gaan dus weer nie oor wen en jou posisie op die ranglys verbeter nie, maar oor GELD. Spelers wat skuldig bevind word aan wedstryd knoeiery word vervolg, maar krieket amptenare wat opdrag geen om ‘n baanblad tot voordeel van die opposisie voor te berei en dit ter wille van geld, kom skotvry daarvan af. Dit sal net hier doodloop onder die dekmantel van: “Ons het nie goed gespeel nie”

Kobus ·

Passop dat slim nie sy baas vang op Nuweland…dan is die reeks vir die Proteas verlore…want daar word mos met elke wedstryd gespeel om te wen…beide spanne…as die blad wel voorberei is om net een span te bevoordeel…dan is daar nie sportmansgees en die beste is die wenner…passop die Proteas kan net n afdag soos gister weereens belewe…dan het Nuweland nog n slagoffer….

Fluffie ·

Met die samestelling van die T20 groep was ek die mening toegedaan dat die Proteas eintlik sy reserwekrag wil toets. Ek sou reken dat daar buiten hierdie groep ‘n veel sterker span saamgestel kan word wat ordentlike rekenskap van hulself kan gee. Maar met die volgende T20 Wereldbeker in gedagte reken ek hul is op die regte koers en vir die doeleiendes van spanbou is hierdie reeks nie van soveel belang nie. Ngidi as speler was nog nie voorheen aan my bekend nie maar as hy met die bestes sou meeding kan hy ontwikkel as ‘n ster. Dit is ‘n reeks vir die langtermyn waarin spelers ontwikkel moet word voordat hul sommer net aan die diep kant ingegooi gaan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.