Proteas skaaf vir oulaas vir Engeland voor Kampioenereeks

Quinton de Kock – ʼn honderdtal en ʼn nulletjie in sy twee beurte (Foto: Cricket South Africa, Facebook)

Of dit genoeg voorbereiding was, sal Woensdag se eerste eendagwedstryd teen Engeland leer, maar die Proteas het in hulle twee voorbereidingswedstryde teen Sussex en Northamptonshire heel skaflik gevaar.

Die Proteas speel Woensdag in hulle eerste van drie wedstryde teen Engeland op Headingley, Leeds. Die span sal oudergewoonte eers net voor die wedstryd aangekondig word.

Hulle ander wedstryde teen Engeland is op 27 en 29 Mei.

Die keurders sal sekerlik ook hierdie drie eendaagse wedstryde teen Engeland gebruik om die beste kombinasies te bepaal voor die IKR se toernooi om die Kampioenetrofee aanstaande week begin.

Die Proteas speel op 3 Junie in hul eerste wedstryd teen Sri Lanka in dié toernooi wat opgevolg word met ʼn wedstryd teen Pakistan op 7 Junie.

Na afloop van die Kampioenetoernooi bly die Proteas in Engeland om drie T20-wedstryde en een driedaagse oefenwedstryd teen die Engeland Lions te speel voordat die vier vyfdaagse toetswedstryde gespeel word.

♦  Dit was wel net oefenwedstryde teen die graafskappe waar die Proteas allerhande kombinasies en interessante skuiwe op die proef gestel het, maar hulle het nogtans goed teen hulle gevaar en lyk oorgehaal vir die Kampioenetoernooi.

Vrydag se wedstryd teen Sussex is maklik gewen. Quinton de Kock en Wayne Parnell, wat as aanvangskolwer een van die proefnemings was, het ʼn vinnige 121 daargestel voordat Parnell met 61 lopies in 42 balle uitgehaal is.

De Kock het, na hy 104 in 86 balle by die telling gevoeg het, uitgetree om ander kolwers ook ʼn kans te gee. JP Duminy was goed op dreef en het 68 vinnige lopies geslaan. Die wedstryd is na 32 boulbeurte verkort en die Proteas het met 298/4 geëindig.

Kagiso Rabada,  Morné Morkel en Andile Phehlukwayo het elkeen twee paaltjies geneem en Keshav Maharaj een. Sussex kon net 223 lopies aanteken en die Proteas het die wedstryd met 66 lopies gewen.

♦  Die tweede oefenwedstryd was aansienlik taaier en die Proteas het Northamptonshire naelskraap met 13 lopies geklop.

De Kock is dié keer vir ʼn nulletjie uitgehaal. Hashim Amla (59), Faf du Plessis (50) en David Miller (51) het almal vyftigtalle geslaan en Farhaan Bernadien het 33 bygedra.

In hulle 50 beurte kon die Proteas slegs 275/7 op die telbord plaas.

Tom Sole, in sy debuut vir die graafskap, het so amper die wedstryd vir hulle beklink. Morné Morkel het egter sy aanslag in die 48ste boulbeurt gestuit.

Die marathontoer in Engeland eindig eers op 8 Augustus.

Woensdag se wedstryd begin om 15:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.