Sri Lanka se kolwers swig voor Tahir en Parnell

Imran Tahir - verwoestend met sy draaiballe. Foto: @OfficialCSA op Twitter.

Imran Tahir – verwoestend met sy draaiballe. Foto: @Official CSA op Twitter.

Dit was die ou-ou storie toe Sri Lanka se kolwers Saterdag wéér klei getrap en Suid-Afrika gevolglik die eerste eendagwedstryd op St Georgespark met agt paaltjies gewen het.

Hulle het dit op ʼn drafstap reggekry. Die skamele 181 lopies almal uit van Sri Lanka is verbygesteek met 94 balle van die Proteas se kolfbeurt (185/2) nog oor.

Ja, Sri Lanka het wel verras en die laaste twee T20-wedstryde gewen en die reeks teen Suid-Afrika verlede week beklink. Maar eendagkrieket oor 50 boulbeurte is nie die tref-en-trap T20-formaat waar geluk ʼn veel groter rol speel nie, en dit sal verbaas as die tuisspan in die reeks vasval.

♦  Wayne Parnell, wat met die eerste bal van sy eerste boulbeurt en die sewende van die dag ʼn paaltjie geneem het, het met sy volgende boulbeurt weer onmiddellik toegeslaan en Sri Lanka het op 14/2 gewankel.

Ondanks ʼn goeie herstelpoging wat deur Kusal Mendis (62) en Dinesh Chandimal (28) gelei is met die derde paaltjie wat eers op 86 geval het, was die kolftempo op ʼn redelike goeie kolwersblad heeltemal te stadig om ʼn groot teiken te stel.

En toe slaan Imran Tahir toe en verwoes die Sri Lankaanse kolfbeurt. Binne vier beurte (15 van sy balle) het hy van Mendis en Chandimal ontslae geraak en ook die kaptein Upul Tharanga beenvoor betrap.

Hy is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.

Tahir se 3/26 teen slegs 2,6 lopies per beurt het die telling van 86/2 na 102/5 verander. Die teenstand van Dhananjaya Da Silva (28) is deur Parnell met sy derde paaltjie kortgeknip en daarna was dit eerder vir hoe min as vir hoeveel die Sri Lankane uitgehaal sou word.

Chris Morris, met sy terugkeer na sy besering, het 2/29 geneem en Kagiso Rabada 1/35.

Toe die Proteas kom kolf het, was Quinton de Kock – wat terloops weer ʼn skitterende vangskoot agter die penne gevat het – soos altyd uit die staanspoor aanvallend. Daar was ʼn paar skuinshoutjies, maar sy 34 in 49 balle saam met Hashim Amla wat 57 in 71 balle aangeteken het, het die aanvangsvennootskap tot 71 in 13,1 beurte gevoer voordat De Kock uit is.

Amla het op 131/2 gevolg, en toe het die twee maats sedert hulle Affies-skooldae, Faf du Plessis (55 nun in 68 balle) en AB de Villiers (30 nun in 27 balle) die telling in net 51 balle met 54 lopies aangeskuif om ʼn einde aan die ietwat ongelyke kragmeting te bring.

♦  Die tweede van die vyf eendagwedstryde word Dinsdag (13:30) in Durban gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.