Presidentespan dop tweededag-eksamen behoorlik

As dit ʼn eksamen was, het die Internasionale span Vrydag net tien persent gekry toe die Presidentebeker-toernooi in Jersey City voortgesit is.

Net Jordan Spieth en Patrick Reed van die VSA het ʼn halwe punt afgestaan in die vyf beterbalwedstryde teen die Internasionale span waar Spieth op die laaste putjie ʼn sethou verbrou het.

Die Yanks loop nou met 8-2 voor, en dit lyk onwaarskynlik dat die Internasionale span die benodigde 13½ punte uit die laaste 30 sal kan insamel om die toernooi te wen.

Spieth se onsuksesvolle sethou het aan Adam Hadwin en Hideki Matsuyama ʼn gelykop uitslag en die halwe punt besorg met al vier die ander wedstryde wat deur die Amerikaners gewen is.

Ook hierdie wedstryd waar hulle Vrydag darem ʼn halwe punt gekry het, het vir die Internasionale span weinig eer besorg nadat hulle ná die eerste 14 putjies oënskynlik op 2-voor op pad na ʼn sege was. Ná 16 putjies was sake gelyk en toe was dit blote vasbyt vir die Internasionale span en verbroude kanse van die VSA wat die uitslag bepaal het.

♦  Branden Grace en Louis Oosthuizen het, ná vyf seges in 2015 en vanjaar, hulle eerste neerlaag as paar gely toe hulle deeglik deur Rickie Fowler en Justin Thomas geklop is, 3&2. Die twee Suid-Afrikaners was nooit in die wedstryd voor nie en het net ʼn enkele putjie, die 16de, gewen.

♦  Charles Schwartzel het nog ʼn swak dag beleef en sy spanmaat Anirban Lahiri het net so gesukkel.

Toe hulle met die omdraaislag reeds vyf agter was teen Kevin Chappell en Charley Hoffman, was die slag gelewer. Vier putjies later was alles verby met die VSA wat met 6&5 gewen het.

♦  Marc Leishman en Jason Day het hulle wedstryd verloor toe Phil Mickelson op die laaste putjie vergoed het vir sy droognmaak op die eerste dag toe hy, ook met Kevin Kisner as spanmaat, ʼn maklike sethou op die 18de, teen toevallig dieselfde twee spelers van die Internasionale span, verbrou het.

Die keer was Mickelson-hulle met 1-voor aan die wenkant nadat hulle tot ná die 14de putjie nog agter was.

♦  Net so het die VSA duo Dustin Johnson  en Brooks Koepka ná nege nog gelyk getrek teen Adam Scott en Jhonattan Vegas 3 & 2, maar toe het die Amerikaners oor die laaste nege by die tiende, 12de, 15de en 16de gewen om die wedstryd met 3&2 in die sakkie toe te knoop.

Saterdag word vier beurtspelwedstryde gespeel, gevolg deur vier beterbalwedstryde waarvan die spanne eers ná afloop van die beurtspelle bekend sal wees.

Beurtspelle (SA tyd), VSA eerste genoem –

13:02  Jordan Spieth/Patrick Reed vs Marc Leishman/Jason Day
13:13  Matt Kuchar/Dustin Johnson vs Adam Hadwin/Adam Scot
13:24  Kevin Kisner/Phil Mickelson vs Emiliano Grillo/Jhonattan Vegas
13:35  Rickie Fowler/Justin Thomas vs Branden Grace/Louis Oosthuizen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.