6 April 2017 – ʼn dag om te onthou

sa-rugby-logo-cropToe ons jonger was, was 6 April 1652 ‘n baie belangrike dag in ons geskiedenis.

Dit was die dag toe Jan van Riebeeck voet aan wal in die Kaap gesit het, so is ons geleer. Ons het grootgeword met Van Riebeeck-dag en ons almal kon die drie skepe, die Dromedaris, Reijger en Goede Hoop opnoem (hoeveel keer was dit nie ʼn vraag in ʼn geskiedenis-toets nie?) waarmee Van Riebeeck en 81 ander mans en 8 agt vroue voet aan wal gesit het.

Ons het Van Riebeeck-dag van 1952 tot in 1974 as  ʼn openbare vakansiedag gevier. Dis na Stigtingsdag verander – en toe word dit in 1994 afgeskaf, so asof Van Riebeeck-hulle nie in Kaap aangekom het nie.

Vanjaar kan 6 April een van die belangrikste dae in ons rugbylandskap word wanneer die Suid-Afrikaanse hoofraad (klink dit nie soos iets uit die Survivor-televisiereeks nie?) ʼn baie belangrike besluit moet neem.

Die land se 14 unie-presidente en die uitvoerende beamptes vergader dan om die pad vorentoe vir Superrugby uit te stippel.

Mark Alexander (Saru-president) en Jurie Roux (Saru se uitvoerende hoof) is tjoepstil (net soos Saru oor sy besluit om Allister Coetze se aanstelling as Bokafrigter maande lank  nie te bekragtig nie en Brendan Venter se aanstelling as lid van die afrigtingspan te bevestig), oor die onlangse besluit wat hulle in Londen saam met Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond,  geneem het.

Volgens die Australiërs en Nieu-Seelanders sal twee SA Superspanne in die stof byt en net een span van Australië om na die Super 15-reeks terug te keer.

Hoekom twee spanne van SA en net een van Australië?

Dit beteken dat die Kings en die Cheetahs in die spervuur is en dis ʼn besluit wat die rugbybase sal moet verdedig.

Harold Verster van die Cheetahs sê sy span is veilig, maar watter ander span(ne) kan sneuwel?

Hoekom is die voorstel nie daar en dan geveto nie, tensy die rugbybase daarmee saamgestem het.

Hulle sal oop kaarte moet speel, hulle sal die finansiële verknorsing op die tafel moet plaas, hulle sal planne moet uitlê wat uitgevoer sal word om twee spanne van rugbybankrotskap te red.

Kan ons dit werklik bekostig om rugby in die Oos-Kaap en die Vrystaat (wat Griekwas en die Griffons insluit) te laat doodbloei, of altans so lyk dit van langs die kantlyn af.

As kwynende toeskouergetalle een van die redes is, hoeveel mense sal gaan kyk wanneer die Vrystaatse Cheetahs op ʼn Woensdagmiddag Curriebekerrugby speel?  En die OP en Grens?

Wat van borge, junior en klubrugby?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kwagga ·

Gee beide die Bulle en die Kings die trekpas. Beide hoort nie daar nie.

Die Bulls hou die swakste asook die beste rekord en die laaste paar jaar is hul oeste niks minder as misoeste nie.

Die Kings, wat kan mens oor hul sê

Vaalseun ·

Ja, Pieter, swarigheid, nê. Maar ons rugbybase se sitplekke by die Super-eindwedstryde en RWB is bespreek – ongeag of ons spanne speel, wen, verloor of uitval. Ek stel voor ‘n rugbybaas mag eers oorsee vlieg na ‘n toernooi toe wanneer sy/ons span ‘n eindstryd gehaal het. Oregan Hoskens wou nie gepla gewees het met oproepe van nuuspersoneel uit Suid-Afrika wanneer hy besig was met sy “duties as a World Rugby director” nie. So, laat hulle maar die reis en verblyf geldjies op eie bodem inploeg vir die ontwikkeling van ons spanne wat onder hulle bestuur steeds nie die mas opgekom het nie.

Pietman ·

Laat die top 4 curriebeker spanne van die vorige jaar superrugby speel. Dit sal die curriebeker meer interessant maak. Die feit dat die bestuur so rondneuk beteken net hulle besluite is gewoonlik swak.

Veritas ·

Rugby het sy glans verloor agv politieke inmengery. So ‘ n stoere rugbyslaaf as wat ek was, moet ek erken dat Curriebekerrugby geruime tyd al, nie meer vir my saakmaak nie. Verlede jaar se Springbokmislukkings het nie regtig as ‘n verrassing gekom nie. Goed, dit is wel so dat die buitelandse klubs ons spelers met groot geld weglok maar die knaende politieke inmenging het SA rugby op sy knieë gedwing. Van ons eens trotse nasionale sport het net ‘n geskiedenis oorgebly. Superrugbyglorie is iets waarvan ons maar kan vergeet. Die passie wat ondersteuners vir rugby gehad het, is weg. Daarvan getuig die swak toeskouergetalle. Die rugbywêreld lag ons uit en tereg ook. Die verleentheid wat 2016 se Springbokke oor ons gebring het, was die laaste strooi.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.