All Black-keurders het maar min grys hare

Dit is darem baie maklik om ʼn Nieu-Seelandse rugbykeurder te wees.

Ja, die hoofafrigter, Steve Hansen, en sy medekeurders, Ian Foster en Grant Fox, moes Woensdag vanweë beserings twee noodgedwonge veranderinge aan die opdrafspan maak wat die eerste toets in Auckland met 30-15 teen die Britse en Ierse  Leeus gewen het, vir Saterdag se tweede toets in Wellington.

Ben Smith, die wêreld se beste heelagter, het harsingskudding op Edenpark opgedoen. Groot kommer, want sy loopbaan is dalk aan skerwe, net soos dié van Pat Lambie.

Die senter Ryan Crotty is ook beseer.

Wie moet Smith vervang? Hande op vir Israel Dagg, wat van vleuel na heelagter (sy gereelde posisie), toe skuif. Een, twee, drie.

Wie moet Dagg op die vleuel vervang: Waisake Naholo of Julian Savea? Hande op vir Naholo: een, twee, drie.

Wie moet in Crotty se plek speel? Hande op vir Anton Lienert-Brown? Een, twee, drie.

En toe kom hulle by die groot besprekingspunt, of Wellington se stormram-senter, Ngani Laumape, die Leeus in die tweede helfte van die bank af moet teister. Dit kon sekerlik nie ʼn moeilike keuse gewees het nie.

Laumape, wat op skool rugby gespeel het, maar toe vir twee jaar vir die Warriors rugbyliga gespeel het, se groot drome was steeds om die All Blacktrui oor sy kop te trek.

Hy speel sedert 2016 weer rugby en maak amok in vanjaar se Superrugbyreeks; sy 14 drieë getuig daarvan. Hy word reeds as ʼn tweede Ma’a Nonu beskou en hy ken net een pad: reguit, maar sonder om besit af te staan.

En toe kom hulle by die pak.  Hou by die wenspan en siedaar, die vergadering is verby nog voordat daar ʼn tweede koppie tee geskink kon word.

Daar is bitter min ooglopende swakplekke in die All Blackgroep. Spelskeppers en spelbrekers, heelagters en vleuels wat die hoë balle kan bemeester en teenaanvalle kan loods, ʼn senterpaar wat die bresse kan slaan en nie bang is om te verdedig nie, straks die beste skakelpaar in wêreldrugby, stutte wat kan skrum, slotte wat kan spring, flanke wat nie bang is om op die grond te delwe nie.

En tog het die Iere verlede jaar in Chicago daarin geslaag om die All Blacks te ontspoor.

All Blacks –

15 Israel Dagg, 14 Waisake Naholo, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kapt.), 7 Sam Cane, 6 Jerome Kaino, 5 Samuel Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Wyatt Crockett, 18 Charlie Faumuina, 19 Scott Barrett, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Aaron Cruden, 23 Ngani Laumape.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rynhardt ·

Die All Blacks is net te briljant vir hul opponente! Hul gaan die toetsreeks teen die Britse Leeus wen, en later gaan hul albei toetse wen teen die bokke! Die silwervarings het n trotse geskiedenis en is vegters van formaat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.