BBRU-liga: nasionale wenners in Carlton gelooi

Naka Bulle se Tukkietemmers. (Foto: Johanna de Vos)

Sowel die Varsitybeker- as die Goue Bekerkampioen het Woensdag in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga aan die kortste end getrek.

Die Naka Bulle (die huidige Assupolkampioen) het oortuigend met 34-10 teen die nasionale studentekampioen gewen (rustyd 7-3), en die verdedigende Carltonkampioen, Centurion, het met 31-22 met die oop klubs se internasionale Goue Bekerkampioen afgereken.

Johanna de Vos, die wandelende ensiklopedie van die bond se klubrugby, sê dis die eerste keer sedert 2005 dat Naka daarin kon slaag om die studente in die liga te klop. Destyds het hy met 27-25 gewen.

Buks Burger, die klubbestuurder van Naka, sê hoewel die telling hoog lyk, was dit gewis nie eenrigtingverkeer nie, en die span van die Moot moes baie hard vir sy oorwinning werk.

“Die wengrondslag is deur die agttal gelê, wat puik in sowel die skrums as die lynstane gevaar het. Dit het Naka se gevaarlike agterlyn die geleentheid gebied om na hartelus met die bal te hardloop.

“Die klub beskik oor ʼn goed gebalanseerde span, wat onder goeie leiding van sy afrigters en kaptein vir mekaar omgee en speel.

“Dit sal onvanpas wees om spelers uit te sonder, aangesien elkeen wat op die veld was of van die bank af opgegaan het 100% gegee het.”

Naka se punte het bestaan uit vier drieë, twee deur elk van sy puik vleuels, Marcel Human en Frans Botha, met sy jong losskakel, Dillen du Buison, wat ewe voortreflik vertoon het, wat met vier doelskoppe en twee strafdoele geslaag het.

Naka speel 6 Mei teen Quins-Bobbies-rugby (QBR) op die Harlequins-veld in Groenkloof.

 Oor Saterdag se wedstryd tussen QBR en die Tukkies sê Ben Eybers, QBR se voorsitter, die studente het hul kondisie van die Varsitybekerreeks na die Carltonliga verplaas, en met ʼn stewige agttal die QBR Swart-manne besig gehou.

“Die wedstryd was met 60 minute oor nog in die weegskaal, maar toe het Tuks drie keer punte aangeteken om die telling na 42-19 te rek.

“QBR het sterk teruggeveg en kon op die ou end ʼn dertigtal op die telbord plaas.

“Die studente se skop pale toe om die telling kort voor die einde 45-30 te maak, het gewys daar is respek vir die QBR-snellers.”

CJ de Villiers, Jan Hendrik Bosman en Pieter Matthews het QBR se driee gedruk. Morné Hugo het 15 punte aangeteken deur drie te verdoel en met drie strafdoele te slaag.

Eybers laat weet QBR Rooi het sy eerste nederlaag van die seisoen gely deur naelskraap teen die Fezelas te verloor.

“Hulle was in ʼn stadium ver agter; het terugbaklei om voor te loop, maar in die doodsnikke van die wedstryd het die Fez oorgeval om die telling 34-31 te maak.”

QBR speel eerskomende Saterdag teen Dragons.

Eybers sê die Dragons was die enigste span wat nie hul wedstryde ter wille van die langnaweek wou skuif nie.

Ander uitslae –

Woensdag

Fezelas (UP) 33, Naka II 31; Pumas (UP) 47, Naka III 0; Naka o.21 30, Tuks-Jongspan 13; Naka o.20 22, Tukkies 15; Impala II 32, Centurion II 16; Centurion III 32, Impala III 3; Centurion o.20 43, TUT o.20 3; Tuine o.20 13, Impala o.20 8.

Saterdag

Pumas (UP) 35, OBR 14; Tuks-Jongspan 61, QBR o.21 3; Tukkies o.20 24, QBR 6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.