Beroemde Springbok-held sterf in Nieu-Seeland

Lionel Wilson (Foto: Bidorbuy)

Een van die beroemdste Springbok-heelagters in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby is Sondag in Nieu-Seeland oorlede.

Lionel Wilson het Suid-Afrika van 1960 tot 1965 in 27 toetse verteenwoordig, destyds ʼn rekord vir ʼn heelagter, en het drie Springboktoere meegemaak.

Hy is ná ʼn lang siekte op 84 in Napier, Hawke’s Bay, oorlede.

Wilson en sy gesin het in 1967 na Nieu-Seeland verhuis, en hoewel hy, toe sy gesondheid begin agteruitgaan, ʼn ruk lank na Suid-Afrika teruggekeer het, is hy later weer terug oorsee.

Hy het vir Villagers en die Westelike Provinsie gespeel toe hy in 1960 die eerste keer vir die Bokke in die derde toets teen die All Blacks in Bloemfontein gekies is.

Saam met die senter John Gainsford en die agsteman Doug Hopwood het die klub Villagers drie manne in die Bokspan gehad.

Groot omstredenheid oor sy keuse het losgebars omdat die Vrystaat (en ʼn groot deel van die res van die land) geglo het Piet Botha, hul held in die bond se sege van 9-8 oor die toerspan, moes die Bok-heelagter wees.

Wilson is luidkeels uitgejou toe die span by sy hotel in Bloemfontein aangekom het, maar toe hy in die toets die een hoë bal ná die ander suiwer uit die lug vat en veilig uitskop, het die gejou in selfs luider toejuiging omgeskakel.

Hy was so standvastig as die rots van Gibraltar onder die grootste druk, en tot met sy uittrede was sy plek nooit weer in gedrang nie.

Wilson het in ses toetse teen die All Blacks, agt teen die Wallabies, vier teen die Britse Leeus, drie teen Ierland, twee elk teen Skotland en Frankryk, en een elk teen Engeland en Wallis gespeel.

Sy toere was in 1960-61 na Brittanje en Frankryk, in 1965 na Ierland en Skotland, en later dieselfde jaar na Australië en Nieu-Seeland.

Hy het twee skepdoele in toetse behaal (in 1961 teen Australië in Port Elizabeth, en in 1964 teen Wallis op Springs) asook drie drieë gedruk en met twee doelskoppe geslaag in die 31 ander wedstryde waarin hy die Groen-en-goud gedra het.

Sy provinsiale loopbaan het van 1955 tot 1966 gestrek.

In dr Danie Craven se The Legends of Springbok Rugby 1889-1989 (redakteur K Clayton) sê hy Wilson was nie ʼn gebore rugbyspeler nie, hy het homself een gemaak, “die enorme hoeveelheid werk en oefening wat hy bestee het om homself te slyp, het ruim vrug gedra.

“Hy het sake vir homself uitgepluis, en heelagterspel in sy eie besondere styl vervolmaak in ʼn mate wat van hom een van ons legendes gemaak het.”

In ʼn tikkie ironie het Wilson se regstreekse teenstander in die 1960-reeks, die legendariese All Black Don Clarke, hom op sý beurt in Suid-Afrika gevestig, en is hy in 2002 in Johannesburg oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HartseerSpringbok ·

Dis hartseer. Rus in vrede Lionel, jy kon terugkyk as speler op ‘n era waar die Springbok sy kop hoog gedra het. Mens kan nie help om te wonder of the huidige “Hangkop Springbokke” se rekordnederlaag Saterdag dalk sy heengaan die volgende dag verhaas het nie?

Dereck Le Roux. ·

My innige meegevoel met sy geliefdes en familie en ek hoop nie dat die rekord verloorslag teen die All Blacks het sy gesondheid ‘n gevoelige knou gegee dat hy dit nie kon vetwerk het nie.

Wicus ·

Kan ek net sê die manne het baie plesier verskaf, ‘n grootte het geval!

Dankie vir die beriggewing Piet, hou aan daarmee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.