Bokke breek verloordroogte, maar kort nog reën

Jean-Luc du Preez bars met die bal weg. (Foto: GB Jordaan)

ʼn Mens kla mos nie met ʼn witbrood onder die arm nie.

Wat sou ons verlede jaar wou gee om die Franse met 35-12 te klop, om nie ʼn drie af te staan nie, om die reeks met 3-0 te wen, om 109 punte in drie toetse aan te teken en net 41 af te staan, om 12 drieë te druk en net vier deur te laat?

Die bal op pad na Jaco Kriel. (Foto: GB Jordaan)

Boonop het die Bokke Saterdag op Ellispark die wendroogte van vier toetse teen die Franse in die Leeukuil gebreek toe hulle die derde toets met 35-12 gewen het nadat hulle rustyd met 16-9 voor was.

Heel verstane is alles nog nie klopdisselboom nie, maar hoe het die gewese Bok-afrigter Kitch Christie altyd gesê? Die kenmerk van ʼn goeie span is om aan wenkant te bly, al speel hy swak.

Maar kom ons wees eerlik, dit was een van die swakste en mees loodvoetige Franse spanne in dekades. Dalk was dit net die regte doepa wat die Bokke nodig gehad het voor die komende Rugbykampioenskap.

Met ʼn vurige pak voorspelers, nuwe spangees, uiters hegte verdediging en ʼn plaasvervangersbank wat ʼn baie groot verskil maak, sien ek kans vir die Wallabies en Poemas, maar die All Blacks, kom ons los dit vir ʼn

Die nuwe Bok-kaptein, Eben Etzebeth, rank vir die bal. (Foto: GB Jordaan)

ander dag.

Kom ons begin heel voor. Die liesbesering van die kaptein, Warren Whiteley, het ʼn baie groot rol gespeel.

Whiteley het glo die hele week nie saamgeoefen nie, maar dit is eers ʼn uur of wat voor die afskop bekend gemaak.

Hoekom?

Sy plaasvervanger, Jean-Luc du Preez, het nie in sy nuwe rol as agtsteman oortuig nie, en die kombinasie van Du Preez, Kolisi en Jaco Kriel was nie te suksesvol nie.

Eben Etzebeth, die Bokke se 59ste kaptein, was ook bedees en die vonk is eers aangesteek toe Pieter-Steph du Toit, Lood de Jager en ʼn skitterende Steven Kitshoff in die tweede helfte opgestuur is.

Dit was ook ʼn kwaai vuurdoop vir die nuwe vaskopstut Ruan Dreyer. ʼn Monster van ’n eerste skrum in toetsrugby het tot ʼn strafskop aan die Bokke gelei, maar toe het hy twee afgestaan. Bygesê, die Australiese skeidsregter Angus Gardener, sou nie ʼn ATKV-veertjie vir sy vertoning ontvang het nie.

Beast Mtawarira storm op ’n Fransman af. (Foto: GB Jordaan)

 

Geen wegkomkans vir Courtnall Skosan nie. (Foto: GB Jordaan)

Agterlangs was die skrumskakel Francois Hougaard effe veroes en onseker, veral in die eerste helte. Dit wys jou net watter waarde Ross Cronjé in die eerste twee toetse toegevoeg het.

Onseker

Hougaard se onsekerheid het daartoe gelei dat Elton Jantjies nooit kon oorheers nie. Was dit nie vir Jan Serfontein nie, was daar min ander regmerkies in die agterlyn.

Jan Serfontein probeer deur ’n Franse knyptang loop. (Foto: GB Jordaan)

Hoe lyk die pad vorentoe?

Die grondslag is gelê en anders as die regering, is daar ʼn omdraaiplan.

G’n wonderwerke

Maar ons moenie wonderwerke verwag nie. Dit gaan ʼn seisoen of twee neem om die skade te herstel.

Aan die ander kant is daar darem niks lekkerder nie om weer die Bok-ondersteuners te hoor sing, om hulle in die winkelsentrums op Saterdae in Boktruie te hoor rugby praat, en om die stadions vol te pak.

Die puntemakers –

Suid-Afrika: 35 (16) – Drieë: Jesse Kriel, Eben Etzebeth, Malcolm Marx, Rudy Paige. Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoele: Jantjies (3).

Frankryk 12 (9) – Strafdoele: Jules Plisson (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lol ·

My opmerkings tong in kies oor nuwelinge en plaasvervangers: Hougaardt was stadig met vaart, Cronje kom wys weer die maat. Dreyer skrum soos ‘n reier, hoekom vir Malherbe weier? Jaco Kriel is pure 4 wiel, wie word die spaarwiel? Eben was tydelik kaptein, ons soek hom eerder vir opposisie se pyn. Whiteley was “beseer” om Jaco Kriel te promoveer? Lood de Jager wakker geskrik, hopelik verval nie weer in Blou Bul patroon strik. Kitshoff moet bly, Beast kan nou ry. Du Toit was mooi, as flank of slot kan ons op hom gooi. Rudy Paige byna niks gespeel , maar kon steeds ‘n drie kom steel!

Stephen Namibia ·

Die bokke lyk goed teen n swak Franse span.
Ek het die Britse Leeus en die All Blacks se wedstryd gekyk en die Bokke in huidige vorm sal nie een van die twee spanne klop nie.

Frans C ·

Die Bokke was sonder hul kaptein en hul skrumskakel,plan en-leierloos. Wat die Franse aanbetref,nie eers Tim Moloi, se pragtige weergawe van hul volkslied,kon hul tot groter hoogtes,aanspoor nie.

JOHAN ·

Bokke speel beter tsv AC en AGV rugbykenners wat by getrek is. Onthou julle nog AC se vleiende kommentaar toe STIX sy aan vanklike “rugby wonder”was.

Scalla ·

Vertoon beter maar nog nie op standaard om die britse leeus en all blacks te troef nie.

Lol ·

Korrek. Hopelik kan ons nou bou aan ‘n span wat All Blacks kan aanvat.

vrikie ·

Ons vat die wen einige dag, maar as die Bokke nie baie gou gaan leer om besit te behou en nie net op die krummels te funksioneer nie gaan ons nog lang trane huil.
Jy kan ook nie elke wedstryd wen net deur te verdedig nie, het ook al beter en slegter Franse toetsspanne gesien

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.