Bokke se pad vol dorings op pad na Salta

springbok-rugby-logoDis ʼn nuwe jaar, ʼn nuwe Springbokspan en ʼn vernuwende Bok-spelpatroon, maar moenie verbaas wees as die Argentynse Poemas dieselfde taktiek as verlede jaar gaan gebruik om die Bokke Saterdag in Salta (weer) onkant te probeer betrap nie.

Die Bokke het verlede jaar se openingstoets in die Rugbykampioenskap met 30-23 in die Mbombela-stadion gewen, maar toe trap hulle die volgende Saterdag in Salta in ʼn strik en verloor met 24-26 nadat die Poemas onder meer hul taktiek verander het.

Dit was slegs die tweede keer dat ʼn toets tussen die Bokke en Poemas in Salta gespeel is. Die Bokke het die eerste toets daar in 2014 met 33-31 deurgeskraap en verlede jaar verloor. Die veld is dus ʼn bondgenoot vir die passievolle Argentyne.

Die Poemas, wat Saterdag met 37-15 deur die Bokke in Port Elizabeth geklop is, het geknor in die skrums, maar hul beste stut, Ramiro Herrera, was op die plaasvervangersbank met Enrique Pieretto in die opdrafspan.

Wees maar verseker dat Herero saam met die kaptein Agustin Creevy en die loskopstut Nahuel Chaparro die Bokke Saterdag sal pak, net soos verlede jaar.

Die Poemas se agsteman, Leonardo Senatore, is vroeg in die Baai beseer en Javier Ortega Dieso is opgestuur, wat verdere ontwrigting veroorsaak het.

Die Poemas is ook reeds op pad huis toe om hul wonde te lek, maar die Bokke vlieg eers Dinsdagaand van Port Elizabeth na Johannesburg waar hulle oornag en dan die lang reis via Sao Paolo na Buenos Aires onderneem en dan ʼn verdere vlug van twee uur na Salta aanpak.

Dis onvermydelik; deel van die Rugbykampioenskap.

Boonop sal die tuisskare in Salta bankvas agter die Poemas staan, soos die meer as 40 000 toeskouers dit Saterdag in die Nelson Mandelabaai-stadion gedoen het. Elke hoë skop sal toegejuig word; elke keer wanneer ʼn Bok platgetrek word, sal daar “ge-oe” en “ge-aa” word. Elke keer wanneer Elton Jantjies aanlê pale toe, sal  hy met wolwefluite getoets word.

Ek het ook ʼn spesmaas dat die veteraan Juan Martin Hernandez in die opdrafspan sal wees en dat die Bokke, soos verlede jaar, veel meer onder taktiese skoppe sal deurloop.

Die agterste driehoek van die Springbokke is nog nie getoets nie, en daar is altyd ʼn eerste (tweede) keer.

Maar dis juis wanneer daar antwoorde deur die Bokspan verskaf moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Genieve ·

Moenie die game vooruit speel nie,wag maar tot die manne op di veld uitdraf..sterkte aan die Bokspan ons staan bankvas agter julle.

Nico K ·

Ek stem saam met Pieter. Dit is so dat daar ‘n tendens is in enige span om na ‘n goeie wedstyd oorgerus te wees. En oorgerustheid teen die Argentyne op hul tuisveld kan probleme gee.

wesley ·

Ek vind dit verskriklik snaaks dat almal heeltyd se…. “wag tot ons XY span teekom, dan sal ons Bokke waarlik getoets word”…. Dis n TOETS elke wedstryd! Speel ons Frankryk en vee hul plat 3-0, dan is dit “o nee nee hul was n verswakte span”. Dan vee ons die Argies plat, dan is dit “o nee nee wag tot jul in Salta speel”. As ons nou goed doen die naweek dan moet ons nou eers seker wag weer vir die All Blacks… En as ons nou net een plekkie skraap en val, dan sal dit seker wees “sien ek het jou gese, die Bokke is maar n flou span”. Ai jai…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.