Brons nou Junior Bokke se mikpunt na hartseer-neerlaag

Juarno Augustus, voorste driedrukker en benoem as een van die vyf beste spelers in die toernooi in Tbilisi (Foto: Facebook Juarno Augustus, #WorldRugbyU20s)

Dit is nou wel nie goud nie, maar brons is steeds ʼn metaal met heelwat waarde – veral as dit as sporttoekenning gegee word.

Wanneer die Junior Springbokke Sondag vir Frankryk in die o.20-Wêreldkampioenskap in Tbilisi, Georgië aandurf, is dit presies waarvoor Chean Roux se span gaan mik ná Engeland hul Dinsdag op hartverskeurende wyse 24-22 in die halfeindstryd uit die toernooi geskakel het.

Die tonge het behoorlik in die naloop van die wedstryd geklap met veral die losskakel Curwin Bosch wat deurgeloop het.

Eendag gaan ons leer dat jong spelers van sy gehalte genoeg druk op hulle het …

Bosch se besluitneming kon miskien beter gewees het, tog was dit eerder die Junior Bokke se swak hanterings- en algemene oordeelsfoute wat hulle die halfeind-nekslag toegedien het.

♦  Bosch het ʼn enkelbesering in die halfeind opgedoen en sal nie Sondag teen die Franse speel nie.

Die afrigter Chean Roux het ʼn hele klomp veranderinge aangebring en ook posisionele skuiwe gemaak. Hy meen die span sal die gelykopuitslag in die groepronde teen Frankryk in ʼn oorwinning kan omskakel.

♦  Wat die Franse betref, is dit moeilik om Les Bleus se krag en sterk- en swakpunte te beoordeel. Teen Nieu-Seeland in die halfeindstryd het hulle rustyd ‘n 26-0 agterstand gehad.

Wat gevolg het was ‘n buitengewone terugvegpoging wat gesien het hoe die jong Hane hul kroppe vir ‘n tóé 36-0 telling dik getrek en die Kiwi’s laat besef het die wedstryd is lank nie verby nie.

Die eindtelling was 39-26.

Die vraag is nou: watter Franse hardloop Sondag teen die Junior Springbokke op die veld?

♦  Die Junior Springbokke se agtsteman Juarno Augustus is welverdiend op die kortlys om as die speler van die toernooi aangewys te word, tesame met Engeland se Zach Mercer en Gabriel Ibitoye tesame met die Nieu-Seelanders Tiaan Falcon en Will Jordan.

Augustus is met ses drieë die gesamentlike top-driedrukker in die toernooi.

Die topspeler word Sondag na afloop van die eindstryd tussen Nieu-Seeland en Engeland aangekondig.

♦  Benewens Suid-Afrika is die enigste ander twee lande wat goue of silwer medaljes in die Wêreldkampioenskap gewen het, Nieu-Seeland (vyf goue medaljes, een silwer) en Engeland (drie goues, vier silwer).

Die Junior Springbokke het in 2012 die toernooi gewen en in 2014 in die eindstryd verloor. Dus, net twee eindstryde in tien probeerslae.

Die Junior Bokke was ook in 2008, 2009, 2010 en 2013 die derde plek op die podium. Die laaste twee jaar het hulle vyfde en vierde geëindig.

Junior Springbokke –

Jeanluc Cilliers, Yaw Penxe, Stedman Gans, Damian Willemse, Gianni Lombard, Manie Libbok, Embrose Papier, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn (kapt.), Zain Davids, Ruben van Heerden, Salmaan Moerat, Carlü Sadie, Johan Grobbelaar, Gerhard Steenekamp. Bank: Kwenzo Blose, Daniel Jooste, Wikus Groenewald, Reinhard Nothnagel, Muller Uys, Francois de Villiers, David Brits, Wandisile Simelane.

Afskoptye:

13:30 – Suid-Afrika vs Frankryk  (Bronsmedalje-wedstryd)
16:00 – Engeland vs Nieu-Seeland (Eindstryd )

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.