Cheetahs voor groot uitdaging teen onoorwonne Leinster

Leinster, die Ierse span wat Vrydagaand (20:00 SA tyd) teen die Cheetahs in Bloemfontein speel, is een van net vier van die 14 spanne in die Pro14-reeks wat ná drie wedstryde nog nie verloor het nie.

Dít maak hulle natuurlik nog nie naastenby onoorwonne nie, maar Francois Venter se span kan hom maar klaarmaak vir ʼn heelwat moeiliker wedstryd as verlede week teen Zebré, wat met 54-39 deur die Vrystaters gewen is.

Leinster se twee spelers wat tien dae gelede toegang tot Suid-Afrika geweier is omdat hulle visums nie in orde was nie, is terug in die span nadat hulle eers na Ierland moes terugkeer.

Isa Nacewa is terug as kaptein en binnesenter. Hy en die skrumskakel Jamison Gibson-Park verskaf nog meer ervaring aan ʼn reeds baie ervare span. Nacewa het al toetsrugby vir Fidji gespeel en het sedert 2013 reeds 176 keer vir die Ierse span uitgedraf. Hy het voorheen ook 44 Superwedstryde vir die Blues gespeel.

Gibson-Park het tussen 2013/’15 vir die Blues in 29 wedstryde uitgedraf en het in 2016 ook 13 wedstryde vir die Hurricanes gespeel.

♦  Leinster is ʼn span wat, ondanks ʼn hele paar spelers wat om verskeie redes nie in Suid-Afrika is nie, wemel van ervaring – ook op internasionale vlak.

Hulle rekord getuig van gehalte: Sedert Welwillendheidsdag op 26 Desember verlede jaar het hulle nog nie ʼn ligawedstryd in die reeks verloor nie.

Venter het reeds ná drie wedstryde sy siening oor die verskil tussen Superrugby en dié van die spanne in die Pro14 na die Zebre-wedstryd. Onder meer glo hy die rugby van die Noorde is meer direk en dus fisiek as in Superrugby.

Dan is daar ook hul vermoë om teenstanders, veral met kort skoppies, te laat omdraai.

Venter glo nietemin sy span het ná die eerste twee wedstryde teen die Ierse spanne Ulster en Munster reeds by die anderse benadering van die Pro14-spanne begin aanpas.

♦ Oor Vrydagaand: Die Cheetahs se verdediging sal heelwat moet wees as teen Zebré wat na hulle drie wedstryde nog net sewe drieë gedruk het waarvan vyf teen die Cheetahs was.

Daar was ook te veel sagte Cheetahs-oomblikke waar verkeerde besluite of hanteringsfoute ʼn rol gespeel het. Dit kan nie weer bekostig word nie.

Die Cheetahs kan teen die gehalte-Leinsterspan bewys dat hulle in die liga hoort. Hulle agterlyn is giftig, en die voorstes is, mits hulle op hul beste is, heeltemal opgewasse.

Wen gaan egter baie, baie moeilik wees. Hulle kan nietemin vertwyfeling saai by hulle volgende twee teenstanders, die Ospreys (Wallis) en Glasgow Warriors van Skotland – albei tuiswedstryde in die Vrystaatstadion.

Spanne –

Cheetahs

15 Sergeal Petersen, 14 Rosco Specman, 13 Francois Venter (kaptein), 12 William Small-Smith, 11 Makazole Mapimpi, 10 Ernst Stapelberg, 9 Tian Meyer, 8 Teboho Mohoje, 7 Henco Venter, 6 Paul Schoeman, 5 Reniel Hugo, 4 Justin Basson, 3 Tom Botha, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Charles Marais. Bank: 16 Jacques du Toit, 17 Ox Nché, 18 Johan Coetzee, 19 Rynier Bernardo, 20 Junior Pokomela, 21 Shaun Venter, 22 Nico Lee, 23 Luther Obi.

Leinster

15 Joey Carbery, 14 Dave Kearney, 13 Noel Reid, 12 Isa Nacewa (kaptein), 11 Barry Daly, 10 Ross Byrne, 9 Jamison Gibson-Park, 8 Jack Conan, 7 Josh van der Flier, 6 Jordi Murphy, 5 Mick Kearney, 4 Ross Molony, 3 Michael Bent, 2 James Tracy, 1 Cian Healy. Bank: 16 Seán Cronin, 17 Peter Dooley, 18 Andrew Porter, 19 Rhys Ruddock, 20 Max Deegan, 21 Nick McCarthy, 22 Cathal Marsh, 23 Rory O’Loughlin.

Skeidsregter: Mike Adamson (Skotland)

Assistent-skeidsregters: Ben Whitehouse (Wallis), Stuart Berry (Suid-Afrika)

Televisieskeidsregter: Shaun Veldsman (Suid-Afrika)

Afskop: 20:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.