CJ Stander is sesde Britse Leeu uit Suid-Afrika

CJ Stander het Woensdag sover vasgestel kan word die sesde Suid-Afrikaner geword om vir die Britse en Ierse Leeus gekies te word, en soos Pale Toe! reeds uitgewys het die eerste Afrikaanssprekende.

Sy keuse kom 119 jaar nadat die voorspeler Cuth Mullins in 1896 die eerste Suid-Afrikaner geword het om dié onderskeiding te beurt te val.

In 1927 was daar twee Suid-Afrikaners in die Britse toerspan na Argentinië, waaraan Leeustatus terugwerkend toegeken is: Thomas Gubb (slot) en George McIlwaine (flank).

Die jongste gevalle was die stut Matt Stevens (2005 en 2013) en die senter Brad Barritt (2013).

♦  Mullins, wat in Grahamstad gebore is, het vir Oxford gespeel toe hy in 1896 vir die Britse toerspan na Suid-Afrika gekies is. Hy het in 13 van die 21 toerwedstryde gespeel, insluitende in twee toetse teen sy geboorteland.

Sy pa, RJ Mullins, was ʼn skoolhoof in die Oos-Kaap, en is volgens oorlewering die man wat swartes aan rugby bekend gestel het.

♦ Gubb is in Uitenhage gebore en sy pa, ook Thomas, en oom, Albert Gubb, het albei vir die Oostelike Provinsie krieket gespeel.

Hy het as houer van ʼn Rhodesbeurs aan Oxford gestudeer en van 1926 tot 1929 elke jaar die universiteit in die intervarsity teen Cambridge verteenwoordig. Hy was een van talle Suid-Afrikaners wat Oxford in die loop van jare aangevoer het.

Gubb was 19 toe hy saam met die Britse span in Argentinië getoer het, en was net in die derde van die “toetse” in aksie.

St Andrews

♦ McIlwaine het op sy beurt aan Cambridge studeer en in dié se intervarsityseges van 1926 tot 1928 gespeel.

Nes Mullins en Gubb was hy ʼn oudleerling van St Andrews College, Grahamstad, en in Argentinië het hy in al vier “toetse” gespeel.

Hy word as een van die grondleggers van die moderne flankspel beskou, en as bitter ongelukkig geag om nie vir Ierland te speel nie. Hy het wel vir die Barbarians uitgedraf.

Sy geboortedatum word op omstreeks 1905 gestel, en hy was nog baie jonk toe hy in 1930 skielik in KalKutta, Indië, oorlede is.

♦ Stevens is nes Barritt in Durban gebore en ʼn produk van Kearsney College by Botha’s Hill in Natal.

44 toetse

Hy het onderouderdomrugby vir Suid-Afrika (o.19) en die Westelike Provinsie (o.21) gespeel, voor hy by die Engelse klub Bath aangesluit en Engeland in 44 toetse verteenwoordig het.

Stevens het in 2005 in ses wedstryde vir die Leeus op toer deur Nieu-Seeland gespeel, maar nie die toetsspan gehaal nie.

In 2013 in Australië het hy eweneens in ses gewone wedstryde uitgedraf.

♦ Barritt, wat vir SA o.21 en die Opkomende Springbokke gespeel het, het Engeland sedertdien in 26 toetse verteenwoordig.

Hy is in 2013 as plaasvervanger vir die Leeus na Australië gestuur en het in twee gewone wedstryde gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christian Schoeman ·

Wat van Mike Catt, die mannetjie uit die Baai?

Piet Ebersohn ·

Dankie vir die uitwysing van die oorsig. Ons stel dit reg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.