Die Leeus van 2017 was eintlik maar vulletjies

In die verlede het dit byna op elke rugbytoer gebeur dat van die spelers se koppe uithaak.

Kyle Sinclair, die vurige stut van die Britse en Leeus-toerspan, is Sondagoggend  deur die Aucklandse polisie in hegtenis geneem ná hy die stad rooi geverf het nadat die reeks teen die All Blacks met een-elk gelykop geëindig het.

Geen klag is gelê nie en die polisie het Sinclair by die spanhotel afgelaai.  Wat hy gedoen het, sal niemand weet nie.

Die Leeus van 2017 was eintlik maar vulletjies en daar was bitter min voorvalle, anders as op vorige toere.

Hulle sê die Leeus-toerspan wat in 1968 deur Suid-Afrika getoer het, was die wildste en het die meeste skade aan hotelle aangerig. Op die veld het die toerspan net een van sy 16 provinsiale wedstryde, met 6-14 teen Transvaal, verloor. Maar hulle is met 3-0 in die reeks deur die Bokke geklop nadat die tweede toets met 6-elk gelykop geëindig het.

Maar van die veld af? Beddens is uit hotelkamer se vensters gegooi, gordyne is afgeruk, meubels is verwoes, honderde glase is gebreek, toerbaadjies is aan die brand gesteek en dit het male sonder tal gebeur dat hotelrekenings nie vereffen is nie.

Die Leeus-toerspan van 1974 was die suksesvolste nog. Hulle was onoorwonne op toer en het die Bokke met 3-0 in die reeks verslaan, terwyl die laaste toets op Ellispark met 13-elk gelykop geëindig het. Maar hulle was ook in ʼn hele paar voorvalle van die veld af betrokke. Was dit nie vir die wyse kaptein, Willie John McBride, se diplomasie nie, kon dit heel anders verloop het.

Daar was twee speler-dokters, JPR Williams en Ken Kennedy, om uit te help (dit was in die dae voordat dokters en fisioterapeute saam op toer was). Bygesê, Williams wou eintlik net rugby speel (en baklei.)

Hulle vertel van ʼn voorval op ʼn vlug toe daar groot kommer oor die welstand van die haker Bobby Windsor was. Van sy spanmaats het Williams genader om te kom help, maar sy raad was: “Gee vir hom ʼn gin & tonic.”

McBride was nie net ʼn engeltjie nie. Hy het die losskakel Phil Bennett byna onthoof toe hy hom een aand geabba en vir ʼn boom gekoes het.

En wat van die voorval in die Kruger Wildtuin toe ʼn slang in Windsor se rondawel gegooi is? Windsor, wat baie bang vir slange was, het die ritteltit gekry.

Daar was ook hotelkamers wat verwoes is en gange wat met brandslange oorstroom is.

Maar wat van die 1938-toerspan? Die Ierse slot Blair ”Paddy” Maine, was ’n bokskampioen op universiteit en hy en die Walliese haker Bunnet Travers het in Durban soos matrose aangetrek en dan met opset moeilikheid in die kroeë gaan soek om so ʼn paar bolle te rol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.