Dis hoekom Johann van Graan die groener weiveld soek

Johann van Graan

Hoekom sou ʼn Springbokhulpafrigter die pad vat om ʼn provinsiale of klubspan oorsee te gaan afrig?

Johann van Graan, die Bokke se voorspelerafrigter, neem binnekort die leisels by Rassie Erasmus oor as die hoofafrigter van Munster in Ierland.

Ek het nog net goeie dinge van Van Graan gehoor; oor sy positiewe insette, kennis van die spel, die bestuur en ontleding van spelers en hul teenstanders en sy werketiek, maar ek glo dat sy kennis en vaardighede as voorspeler-afrigter vermors is.

Van Graan het ʼn lang paadjie saam met Heyneke Meyer gestap, eers op Loftus Versfeld toe die Bulls onder meer drie Superrugbytitels gewen het en toe by die Bokke.

Hy is saam deur die meule, en het die soet en suur beleef en oorleef –  ʼn hele paar puik oorwinnings, maar ook neerlae teen Japan, Argentinië, Ierland en Wallis en net een uit agt oorwinnings oor die All Blacks.

Ook hoe die Bokke in 2015 binne twee punte daarvan gedraai het om die All Blacks in die halfeindstryd van die Wêreldbekertoernooi te klop.

Toe Meyer se Bok-paadjie aan die einde van 2015 ʼn doodloopstraat bereik het, was Van Graan een van die min Bok-bestuurslede wat behou is.

En toe erf Allister Coetzee hom as die Bokke se voorspeler-afrigter,  onder meer in beheer van lynstane.

Van Graan het die afgelope twee jaar baie waarde toegevoeg, maar hy het ook in ʼn doodloopstraat beland. Ek glo hy het gestagneer.

Dit het my laat terugdink aan die jaar 2000 toe Heyneke Meyer een van Nick Mallett se adjudante op die jaareind-toer was. Meyer was die voorspelerafrigter,  Allister Coetzee in beheer van die agterlyn.

Meyer was baie gefrustreerd, want hoewel hy die voorspelers moes slyp, was Mallett in beheer.

“Ek wens ek kan ʼn slag  met die agterlyn help, dis waar ek ook waarde kan toevoeg,” het Meyer ná ʼn frustrerende oefening langs die kantlyn gesê.

Meyer het sy kans gekry, en nou volg Van Graan in daardie voetspore.

Munster is wel nie die Bokke nie, maar daar kan hy die septer swaai en sy kennis terugploeg.

Hy is nou in beheer. Hý moet die toutjies trek, en hý moet sorg dat Munster nog verder verbeter.

Is dit nie ʼn beter skuif as om die Bokke se lynstaanafrigter te wees nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LOSKOP ·

Dit is n beter skuif en daar verloor ons nog n kundige op sy gebied. Leef voort in droom wereld A Coetzee

Gert ·

Nattuurlik is die Britse Pond ook baie meer werd as die SA Rand.

Speedguard ·

Verseker, watse toekoms het hy hier ?? Voorspoed ou seun , gaan verdien en versorg jou mense , hier gaan hul kripeer !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.