Dis weer tyd vir ʼn paar Bok-skokke

Hoe vinnig verander dinge nie in rugby nie.

Verlede jaar was die Springbokafrigter, Allister Coetzee, en sy medekeurders maar baie snoep met hul keuse van Lions-spelers, maar vanjaar het hulle nie ʼn keuse nie.

Vergeet van die oefenkampe (dis baie belangrik, maar nie om spelers op te weeg nie). As hulle volgens spelpeil en verdienste kies, moet daar minstens 11 Lions in die Springbokgroep van 31 spelers wees, andersins kan Coetzee maar voelers uitsteek om weer in Japan te gaan afrig.

Kom ons begin by die kaptein: Warren Whiteley of Duane Vermeulen?

Kies jy die plaaslike speler, wat die beste agtsteman in die Superreeks is, of verlaat jy jou daarop hoe ver Toulon (vir wie Vermeulen speel) in die Franse Top14-reeks vorder.

As Toulon tot die Franse Top14-eindstryd op 4 Junie deurdring, sal Vermeulen hom eers vyf dae voor die eerste toets teen die Franse by die Bokke kan aanmeld. Dus behoort daar net een keuse te wees: Whiteley.

Afgesien van Jacques van Rooyen, Andries Ferreira, Ruan Ackermann en Kwagga Smith behoort die res van die Lions-span wat die Bulls op Ellispark vermorsel het, ook regmerkies te kry.

Só ook Jaco Kriel, as hy van sy besering herstel het.

Coetzee gaan die keer nie baie van die Bokke wat oorsee speel, kies nie. As ek die voëltjie reg hoor fluit, kan Frans Steyn, Francois Hougaard, Bismarck du Plessis, Steven Kitshoff en Vermeulen nadergetrek word. Die naam van JP Pietersen word ook genoem, maar dit sal ʼn terugwaartse stap wees.

Dit laat net 15 plekke oop. Kom ons kyk hoe lyk die vernaamste aanspraakmakers.

Bulls: Jesse Kriel, Warwick Gelant, Jan Serfontein, Handré Pollard (is hy fiks?), Trevor Nyakane, Lizo Gqoboka en Lood de Jager. Rudy Paige word ook genoem, genoeg gesê.

Sharks: Pat Lambie (dit kan ʼn fiksheidwaagstuk wees), Lwasi Mvovo, Lukhanyo Am, Beast Mtawarira, Chiliboy Ralepelle, Coenie Oosthuizen en Jean-Luc du Preez.

Stormers: Dillyn Leyds, Damian de Allende (?), Frans Malherbe, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit en Siya Kolisi. Dan is Bongi Mbonambi en Sikhumbuzo Notshe ook voor in die koor.

Cheetahs: Francois Venter (as hy fiks) en moontlik ook Oupa Mohoje en Uzair Cassiem.

Kings: Makazola Mapimpi, Lionel Cronjé en Chris Cloete.

My Bok-groep –
Heelagters: Andries Coetzee, Jesse Kriel.
Vleuels: Ruan Combrinck, Courtnall Skosan, Dillyn Leyds.
Senters: Jan Serfontein, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Lukhanyo Am (Allister-hulle gaan Damian de Allende en dalk Frans Steyn ook insluit).
Losskakels: Elton Jantjies, Handré Pollard (as hy fiks is) en Pat Lambie (as hy fiks is). Indien nie, Lionel Cronjé.
Skrumskakels: Ross Cronjé, Francois Hougaard, Cobus Reinach (Rudy Paige sal ook daar wees).
Loskopstutte: Steven Kitshoff en Beast Mtawarira.
Hakers: Malcolm Marx en Bismarck du Plessis (Bongo Mbonambi óf Chiliboy Ralepelle kan ook daar wees).
Vaskoppe: Frans Malherbe, Ruan Dreyer, Trevor Nyakane.
Slotte: Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Franco Mostert, Lood de Jager.
Losvoorspelers: Warren Whiteley, (kaptein), Duane Vermeulen, Siya Kolisi, Chris Cloete (of Jaco Kriel, as hy fiks is), Oupa Mohoje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frans C ·

Ek gaan ‘n knuppel in die hoenderhok gooi en dalk by baie slae oor dit kry.My wens is dat geen Leeuspeler in die Springbokspan ingesluit word nie.

My motivering is eenvoudig.Geen speler wat onder Coetzee se hande deurgeloop het nie,was daarna weer dieselfde nie.Jantjies geleen aan die Stormers was die kluts totaal kwyt en dit het ‘n tydjie gevat om hom weer in vorm te kry.Ook die ouens wat in Japan was
het maar ‘n sukkeltyd in hul eerste wedstryd teen die Cheetahs (Curriebeker-kampioene) beleef.

Die Leeus se afrigtingsspan het hard gewerk om weer die ouens in vorm te kry en dit sal
‘n terugslag vir die span wees as hul weer hul vorm in ‘n vormlose Coetzee-plan verloor.

Ek kry intussen my sambreel reg om al die spoeg en spat van sy ondersteuners af te weer.

Anne-Marie ·

Frans……….ek stem saam met jou, van afrig weet hy niks, as ek die spelers is, dring ek aan op ‘n ander afrigter……..

Anton ·

Kan die persoon wat berig geskryf het feite reggekry. Lions het Bulls op Ellis park vermorsel, nie loftus nie

Janie Monsieur ·

Dagsê Anton.
Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die glips en dankie dat jy ons daarop gewys het! Die berig is gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Phil ·

Dis goed en wel dat die Leeus se spelers gekies word en die span wat jy voorstel is dalk die beste spelers wat ons het. Die probleem is dat die span bitter min of geen toets rugby ervaring het, ‘n swak afrigter en ‘n baie negatiewe uitkyk. Ek kry die manne jammer wat die Springbok trui vanjaar moet aantrek, hulle het ‘n baie moeilike tyd voor.

So my verwagting is dat niks goed vanjaar gaan gebeur nie. Ons gaan verloor dis verseker, hang net af of dit slegter of beter gaan wees as verlede jaar. As Allister se verstekings in sy afrigtingspan iets kan regkry deur die span keuses en regte spel patroon konstant te hou sal volgende jaar en 2019 dalk so bietjie hoop kry.

Klip in die Bos ·

as jy na vandag se rugby in SA kyk gebeur die volgende…..dis die klein vleuels en senters wat die los balle op die grond wen na die soveelste “chrash ball”, want die hakers . slotte en stutte staan in die backline en rugby kyk.
So hiers n plan…speel jou senters op Flank, jou vleuels op agtste man….sit jou hakers op vleuel,. slotte op senter en gebruik n stut vir jou skrumskakel….( ek dink hy behoort vinniger skoon te maak as enige van ons huidige skrumskakels.)…DAN kan jy mos nou jou stamp kar rugby mooi speel…!!!!!

Nico ·

Ek is bly andere sien ook dat coetzee spelers afbreek en nie ontwikkel nie. Dit sit nie on sy broek om soos Lions te speel nie. Hy breek hulle elke keer af. Kyk waar is Jaco Taute nou weer wat deur hom afgerig moet word. As hy enige huursoldaat kies skree ek ook nie bir bokspan nie. Onervarinheid is dalk ‘n probleem maar watter ervaring was daar in ons span toe ons in 1992 teruggekeer het na internasionale rugby. Tog het daardie spanne hulself beter bewys as paloeka coetzee. As KC vandag nog geleef het en afrigter moes wees sou dit net ‘n formaliteit wees dat die meeste Lions in die span sou wees.

Frans C ·

Die Springbokspan en en ‘A’ span is gekies en behoort politieke base voorlopig tevrede te stel,maar dalk ‘n paar wenkbroue elders te lig.

Dit is nou eenmaal so,ons Nasionale afrigter glo nie, in kombinasies nie,maar wel om suksesvolle kombinasies te verbreek.Hy onderskryf nog steeds ‘n uitgediende konsep van
gooi ‘n groep goeie spelers saam en jy het ‘n wenspan.

Wenspanne word nie so gebou nie maar wentel om kombinasies wat oor seisoene ontwikkel.
Faf de Klerk mag ‘n Springbok wees maar hy is nie meer die nommer een keuse nie,by die Lions.Die rede is eenvoudig, hy is een van die dae nie meer daar nie.

Daarom moet ‘n nuwe langtermyn kombinasie van Cronje en Jantjies beslag kry. Dieselfde, geld vir,voorrye, slotpare,losvoorspelers, senterpare en agterste driehoeke.Kies die kombinasies wat werk en hulself bewys het.Hulle hoef nie die mees briljante spelers te wees nie,kies eerder ‘n bestendige spelers as ‘n briljante een deur beserings geknou,wat die span in die steek gaan laat, na die eerste fisiese botsing.

Wel geluk aan die manne wat gekies is en ons hou styf duimvas dat julle bo uit kom.

Josua Keys ·

Jammer ek gebruik die artikel om my mening te lig aangaande die pas aangekondigde Springbok span ek sien Maroela is bietjie stadig met die beriggewing gewees. Eerstens raak asb ontslae van SARU, die keurders asook Coetzee julle is besig om Suid Afrika se Rugby naam in die grond in te mergel, ‘n derde van die spelers hoort nie eens om op die bank te wees nie hulle is onfiks en kon sover nie die mas opkom nie, dit is Jammer dat Warren met so n span die bokke moet aanvoer. Dit is ‘n dekselse skande hoe julle klomp ……..idi……. goeie talent en spelers op vorm toetaal en blatant miskyk dit terwille van politike korrektheid. Daar is ‘n paar swart en wit spelers wat duidelik baie beter en op vorm is as van die wat julle gekies het Dealinde om een te noem is beslis nie op vorm nie en Ruan Combrink is nie eens gekies nie die beste vleuel saam Skasan tans, ek hoop maar die Franse stuur n swak span want ek sien weer n drag slae en die beste Kaptein in SA gaan daar onder ly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.