Duitse skepdoel kelder Kenia in laaste minuut

Michael Poppmeier (Foto: DRV/Tobias Keil)

‘n Skepdoel in die 80ste minuut van sy kragmeting Saterdag teen Kenia in Nairobi het verseker dat Duitsland die eerste toets tussen die twee lande wen.

Die losskakel Chris Hilsenbeck se skop het die eindtelling in die RFUEA-stadion op 30-29 in die besoekers se guns te staan gebring.

Die tuisspan was rustyd met 12-10 voor, en dis die eerste keer dat die Simbas tuis verloor sedert die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se Jerome Paarwater die span se afrigting oorgeneem het.

Suid-Afrikaners het die meeste van Duitsland se punte bygedra.

Michael Poppmeier (kaptein en slot), Jaco Otto (flank) en Jarrid Els (agsteman) het elk ʼn drie gedruk, en Raynor Parkinson (binnesenter) het met ‘n strafdoel en ‘n doelskop geslaag.

Poppmeier het vroeër die Kaapse klub Valsbaai op die veld gelei; Otto het o.21-rugby vir die Sharks gespeel; Els het die Grens in die Curriebekerreeks verteenwoordig; en Parkinson het vir die Universiteit van Johannesburg (UJ) uitgedraf.

Kobus Potgieter, die oud-Tukkie wat Duitsland afrig, sê die span het sake vir homself bemoeilik deur in die eerste helfte van sy wedstrydplan af te wyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.