ʼn Administratiewe glips het veroorsaak dat die verkeerde span Sondag na afloop van die rondomtalie in die Rugby Europa-kampioenskap (die vlak net onder die Sesnasiesreeks) gekroon is.
Roemenië het Georgië in Boekarest met 8-7 verslaan nadat hy rustyd 5-7 agter was, en die spanne het ewe veel ligapunte gehad.
Georgië, wat die reeks sedert 2006-2007 oorheers het, is as die wenner aangewys, maar die gewestelike beheerliggaam, Rugby Europa, het dit opgevolg met ʼn verklaring dat waar spanne ewe veel ligapunte verdien, die een wat die wedstryd tussen die bepaalde twee spanne wen die hoogste van die twee geplaas word.
Gevoglik het Roemenië die reeks die eerste keer sedert 2010 gewen.
♦ Duitsland, wat deur die gewese Tukkie Kobus Potgieter gebrei word, is Sondag in Sotsji deur Rusland met 52-25 verslaan.
♦ Pole, wat deur twee Suid-Afrikaners afgerig word, het Saterdag sy wedstryd teen Moldawië in die reeks om die Rugby Europatrofee gewen.
Hy het die kragmeting met 15-0 gewen.
Die Pretoriase afrigter Blikkies Groenewald rig die Pole af, en hy word deur die gewese Blou Bulle-afrigter Chris Buitendach bygestaan.
♦ In nog ʼn wedstryd in dié reeks het Nederland in Amsterdam met 38-25 oor Switserland geseëvier.
Eric Mellville, ʼn gewese WP-B-speler en Franse toetsagsteman, is sedert die begin van die seisoen die Switsers se hulpafrigter.
♦ In die Rugby Europakampioenskap het Spanje oortuigend met 30-0 teen België gewen.