Gaan dié naweek se Superrugby super wees?

Hoe het dinge nie verander nie!  Die Jaguares is al sedert die begin van die maand af in die land, die Rebels het Maandag in Durban aangekom, maar daar is nie ʼn woord oor hul doen en late van die veld af nie.

Ja, daar was darem voorskoue en wedstrydverslae van die Jaguares se kragmetings met die Sharks op Kingspark en die Bulls op Loftus Versfeld, maar andersins was dit tjoepstil, want op die oog af gee nie baie ondersteuners om nie.

Die Superrugbyreeks is soos baie dinge in die lewe ʼn ooraanbod, want hoe kan daar weekliks behoorlik dekking aan 18 spanne gegee word in ʼn reeks wat oor byna sewe maande strek? Hoeveel van die 135 wedstryde (veral dié tussen die oorsese spanne) in die groepfase maak ons nog opgewonde? Ja, wanneer die agt spanne eers bepaal is wat in sewe uitspeelwedstryde moet uitspeel om vanjaar se kampioen te bepaal, sal daar eers weer ʼn opflikkering wees.

Toe die Super12-reeks op 28 Februarie 1996 afgeskop het (en op 31 Mei geëindig het), was daar groot opwinding en belangstelling, want ʼn nuwe tydvak is in rugby ingelui.

Suid-Afrika se voorste vier Curriebekerspanne (Noord-Transvaal, Transvaal, die Westelike Provinsie en die Sharks) het saam met die room van Nieu-Seeland en Australië (ja, hulle kon toe ook rugby speel) meegeding.

Maar soos die jare aangestap het, die reeks vergroot is en spanne soos die Jaguares, Sunwolves, Force, Rebels en Southern Kings bygevoeg is, het die belangstelling in Suid-Afrika, Australië en selfs in Nieu-Seeland, waar alles om rugby draai,  gaandeweg getaan.

Nietemin is daar steeds belangstelling oor hoe die Lions Vrydagaand op Ellispark teen die Jaguares sal vaar; of die Stormers Saterdagoggend in Christchurch genoeg skietgoed vir die Crusaders sal hê; of die Bulls hul tweede agtereenvolgende oorwinning vanjaar op Loftus kan behaal wanneer hulle die Cheetahs pak en of die Kings die Waratahs in Sydney in toom kan hou.

Kom ons steek nek uit, die Lions (met 12 punte), Bulls (20 punte) en Sharks (8 punte) behoort te wen, maar daar wag slae op die Stormers (7 punte) en Kings (20 punte).

Tot dusver was die Lions, Stormers en Sharks die Suid-Afrikaanse manteldraers in die reeks. Saam spog hulle met 76 ligapunte, hulle het 86 drieë gedruk en 56 afgestaan.

Aan die anderkant het die Bulls, Cheetahs en Kings gesamentlik nog net 25 ligapunte, hulle het 58 drieë gedruk en 89 afgestaan.

Dit vertel nie die hele verhaal nie, en dis maklik om statistieke te gebruik en om die prentjie in te kleur, maar dis dalk die rede hoekom daar so min toeskouers opdaag.

♦  Voordat ons vergeet, die Hurricanes speel Vrydagoggend teen die Brumbies, die Highlanders pak Saterdag die Sunwolves (nog ʼn wegholoorwinning) en die Force kom teen die Chiefs te staan.

Die naweek se bepalings –

Vrydag:
09:35: Hurricanes vs Brumbies (Wellington)
11:35: Waratahs vs Southern Kings (Sydney)
19:00: Lions vs Jaguares (Johannesburg)

Saterdag:
07:15: Highlanders vs Sunwolves (Dunedin)
11:35:  Crusaders vs Stormers (Christchurch)
11:45: Force vs Chiefs (Perth)
17:00: Bulls vs Cheetahs (Pretoria)
19:30: Sharks vs Rebels (Durban)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.