R15 miljoen, drie PE-toetse in vier jaar om OP te red

Drie toetse in vier jaar. Dit is wat SA Rugby aan die OP Rugbyunie (OPRU) beloof het om hulle te help regruk ná die gemors waarin Cheeky Watson se wanadministrasie hulle laat beland het.

Die drie toetse was die voorwaarde wat die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit van SA Rugby gevra het om R15 miljoen oor die volgende drie jaar aan die OPRU te betaal om hulle likwidasieskuld te help delg.

Daarmee is die unie en sy filiale en klubs gered. Die Oos-Kaap het dus nou weer ʼn unie wat toetse kan aanbied en die inkomste daaruit is nodig sodat rugby in die gebied nie heeltemal ten gronde gaan nie.

Dit is goeie nuus vir die omgewing en sy rugby. Suid-Afrika se heel eerste toets, in 1891 is immers in Port Elizabeth op die Crusadersveld gespeel.

As in ag geneem word daar is in die 27 jaar sedert 1990 net 11 toetse in die Baai se ou Boet Erasmus-stadion (sewe) en Nelson Mandelabaai-stadion (vier) gespeel, sal drie toetse in vier jaar ʼn goeie meevallertjie vir die OPRU en rugby in die unie as geheel wees.

Die toets op 19 Augustus teen Argentinië in die Nelson Mandelabaai-stadion, Suid-Afrika se eerste in die Rugbykampioenskap, is seker die eerste van die beloofde drie.

♦  André Rademan is verlede maand as president van die OPRU verkies nadat Cheeky Watson uiteindelik in Februarie van sy pos afstand gedoen het – net ʼn maand voordat hy op aanklagte van bedrog en geldwassery in hegtenis geneem is.

Dit het die munisipaliteit met ander oë na ʼn moontlike lening laat kyk.

“Die voorwaardes van hierdie ooreenkoms met die unie is dat daar (voortaan) gereelde verkiesings moet wees, ʼn toesigkomitee en administrasie deur SA Rugby. Die toesigkomitee moet verseker dat die geld wat toegeken doelmatig aangewend moet word,” het die munisipaliteit se raadslid vir ekonomiese Ontwikkeling en Landbou, Andrew Whitfield, volgens die African News Agency gesê.

Die uitvoerende burgemeester, Athol Trollip erken die toekenning van die geld was ʼn moeilike besluit omdat hulle vroeër besluit het geen geld sal aan die unie gegee word voordat hulle nie hulle huis in orde gekry het nie.

“Dít het hulle gedoen. Hulle het ʼn uitvoerende bestuur verkies wat daar nooit was nie, met bekwame mense wat ʼn agenda het, ʼn plan om die stadion te vul en om ons unie te laat herleef,”  het Trollip volgens die African News Agency gesê.

Trollip sê die doelwit is om die unie te red. Geen geld gaan na die OP Kings of die Southern Kings nie. Dit is toegeken om die unie te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.