Het Pro14-base dan geglo SA spanne sal gou kook?

Daar is reeds ʼn gebrom in die Noordelike Halfrond oor die teleurstellende vertonings van die Cheetahs en die Southern Kings in die eerste twee weekrondes van die Pro14-reeks, maar wat het hulle verwag?

Jy kan mos nie met R30 000 ʼn nuwe Mercedes-Benz koop nie?

Gestroop van ʼn paar Springbokke (in die Cheetahs se geval) wat nie beskikbaar is nie; die onsekerheid oor hul toekoms nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie maande lank gewag het voordat hy die tafelkleed onder hul jis uitgepluk het; verskeie van die topspelers wat nou in Japan of in Europa speel, of na ander bonde verhuis het; beserings; vreemde speeltoestande en reisreëlings; nuwe reëls (wat nog net in die Noordelike Halfrond op die proef gestel word); en goed voorbereide teenstanders wat uitgerus is aan die begin van hul seisoen, is mos die teelaarde vir mislukking, die wenresep vir chaos.

Kom ons kyk na die Cheetahs en die Southern Kings se jammerlike vertonings die afgelope paar seisoene in die Superreeks – wat hulle op die ou end uit die Superreeks gedwing het. Die Cheetahs het in drie seisoene (2015, 2016 en 2017) net 13 van hul 46 Superwedstryde gewen en die Kings net agt uit 30 kragmetings. Die Cheetahs het 140 drieë gedruk, maar 188 afgestaan. Die Kings het 83 gedruk, maar 155 in net twee seisoene afgestaan.

Dit was mét hul Bokke en ander beste spelers, en ook soms teen swakker Australiese spanne.

Kom ons hoop maar Naas Botha se gevierde uitdrukking “die Curriebeker word nie in Mei gewen nie”, is ook van toepassing op die Pro14-reeks, wat eers aanstaande jaar in Mei eindig.

Die oorsese spanne speel die naweek die eerste keer in Suid-Afrika, en die skoen is hopelik aan die ander voet.

Maar as die Cheetahs en Kings tuis slae kry, het die Pro-14-base dalk ʼn kat in die sak gekoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

kollie ·

Die twee SA spanne het dit nie in superrugby gemaak nie, hoekom sal hulle dit nou maak? Ek lees ook dat spanne soos Munster en Leinster ook tans sonder ‘n hele paar nasionale spelers speel so moenie dink daai spanne is op volle sterkte nie. Miskien klop die Cheetahs darem die Italiaanse spanne. Ek het nie hoop vir die Kings nie.

Dawie ·

Kollie, Hahahaha, lag ek nou, jy het duidelik nie die laaste 2 wedstryde gekyk nie. Die Cheetahs was HOPELOOS en die Kings het weer gewys hul kan beter. So weet nie waarop jy dit baseer. Cheetahs was en is nogsteeds nerens in internasionale toernooie.

Robert ·

Wat die mense vergeet is dat die oorsese spanne spelers van ‘n klompie lande in hul geledere het wat ‘n verskil maak en daar is goeie spelers. By die kings en cheetas is daar net suid afrikaanse spelers en dit maak ‘n verskil. Gee die ouens kans. Onthou net ook die plaaslike spelers is eintlik aan die einde van hulle seisoen en die oorsese spelers aan die begin wat ‘n reuse verskil maak aan die ingesteldheid. Gee die manne kans hulle gaan regkom.

Frans C ·

Rugbybase hier en en oorsee kan nie juis slim wees nie. Want jy sien as jy oorsee en plaaslik gedink het dat twee uitgeskopte Super 18 spanne sal goed in die Super 14 kompetisie sal vaar,dan het jy mos erken dat Pro 14 ‘n swakker kompetisie is as Super 18.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.