Hoe rig jy vir vyf maande nie ʼn span af nie? Maklik!

Ronnie Dawson lei die 1959 Britse Leeus op die veld vir die eerste toets (Foto Argiewe)

Hoe kry enige toerspan dit reg om vir vyf maande deur Nieu-Seeland te toer, in 33 wedstryde en vier toetse teen die All Blacks te speel en boonop nie ʼn afrigter te hê nie?

Jy draai maar die horlosie terug na 1959, glo in die feetjies en skud jou kop in ongeloof.

Die 81-jarige gewese Skotse heelagter, Ken Scotland (is sy van nie ironies nie), het nou die sluier gelig oor die Britse Leeus se toer in 1959 na Nieu-Seeland.

Net 30 spelers op toer, ʼn bestuurder en sy assistent, meer as 30 vlugte, 33 wedstryde, vyf maande van die huis af en op pad huis toe nog twee toetse teen Kanada.

Dit het hulle drie dae geneem om in Melbourne uit te kom voor die eerste van sewe wedstryde in Australië op pad na Nieu-Seeland.

Volgens Scotland was die bestuurder se plig om seker te maak dat die spelers hul dagtoelaag van tien sjielings per dag kry, die kartonne Rothmans-sigarette aan die rokers in die span uit te deel en seker maar dasse en lapelwapentjies op onthale uit te deel. Hulle was baie selde by oefeninge.

Wie het die span dan afgerig? Die spelers op toer.

In daardie dae was Nieu-Seelanders behep met voorspelers op hul moddervelde. Dis waar jy die kuns moes aanleer om die bal te dribbel, want wanneer jy dit laat val het, wou jy nie voor aanstormende All Blacks soos Wilson Whineray, Colin Meads, Kelvin Tremain en Dick Conway beland het deur op die bal te val nie.

Die Leeus het daarenteen geglo om te hardloop. Ja, hulle het die toetsreeks met 3-1 verloor, maar baie meer drieë as die All Blacks gedruk.

In die eerste toets het die Leeus vier drieë gedruk (ongehoord vir daardie dae), maar die All Blacks het met 18-17 gewen nadat die gewese All Black-heelagter Don Clarke hulle voos geskop het en ses strafdoele oorgeklits het (herinner dit nie aan die Leeus se toer in 1997 na Suid-Afrika toe die Bokke die drieë ingeryg het, maar Neil Jenkins se skopskoen die Bokke gekelder het nie?).

Bygesê, die skeidsregter het ná daardie eerste toets nooit weer in ʼn toets geblaas nie. Die Nieu-Seelandse vlagman (elke span kon destyds ʼn speler sekondeer wat dié takie verrig het) het ná een van die ses strafskoppe sy vlag gehys, maar die Leeus-vlagman, Mick English, het sy vlag laag gehou. Die skeidsregter het beslis dit was oor.

Afgesien van die drie toetse, het die Leeus net twee ander wedstryde, teen Canterbury en Otago verloor.

Die toerspan het  net 15 voorspelers op toer gehad en nie een is vervang nie, net vier agterspelers.

En nou? Warren Gatland het 41 spelers gekies en het reeds ses plaasvervangers nader getrek. Op toer is ses afrigters, twee dokters, drie fisioterapeute, twee masseurs (waarvan een ʼn dokter is), verskeie fiksheidsdeskundiges, video-ontleders, skakelbeamptes, kopdokters … skrummasjiene, duiksakke, rekenaars.

En steeds is daar krake wat wys.

Bykomende bron: bbcsport.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.