Jano Vermaak vervang Ross Cronjé in Bokgroep

Jano Vermaak – vir die soveelste keer in ʼn Bokoefengroep. (Foto Twitter)

Jano Vermaak sal Woensdag in die plek van Ross Cronjé saam met die Springbokspan na Argentinië vertrek.

Cronjé het Saterdag teen die Poemas sy regterenkel beseer.

Die kanniedood Vermaak, 32, wat lank moes wag om sy eerste toets in 2013 te speel, was die afgelope jare gereeld in Bokoefengroepe.

Vermaak sal saam met die Springbokke in die Baai voorberei voordat die span Dinsdag vertrek en dan Woensdagoggend oor Johannesburg na Buenos Aires vlieg.

Hy sal na verwagting die Bokke se derde keuse op skrumskakel wees. Rudy Paige sal seker voor hom in die tou wees.

Francois Venter, wat een van die vyf spelers was wat uit die aanvanklike groep na hulle unies teruggestuur is, is die enigste van die vyf wat herroep is. Warrick Gelant, Oupa Mohoje, Lizo Gqoboka en Dillyn Leyds bly by hulle unies.

Mohoje, wat Saterdag vir die Vrystaat Cheetahs teen die Blou Bulle gespeel het nadat hy in die week van Springbokdiens vrygestel is, sal egter seker nie Saterdag vir die Cheetahs kan speel nie. Hy het ʼn ribbesering op Loftus opgedoen.

Handré Pollard bly ook tuis. Hy is in die laaste fase van sy rehabilitasie en sal dit tuis ondergaan.

Die Springbokspan sal eers Donderdag van Buenos Aires na Salta vertrek waar die toets gespeel word. Die 23-tal vir die toets sal Donderdagoggend (Argentynse tyd) voor hulle vertrek uit Buenos Aires aangekondig word.

Springbokgroep na Argentinië –

Voorspelers
Uzair Cassiem, Lood de Jager, Ruan Dreyer, Dan du Preez, Jean-Luc du Preez, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Siya Kolisi, Jaco Kriel, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Franco Mostert, Beast Mtawarira, Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen, Chiliboy Ralepelle.
Agterspelers
Curwin Bosch, Andries Coetzee, Damian de Allende, Francois Hougaard, Elton Jantjies, Jesse Kriel, Rudy Paige, Raymond Rhule, Jan Serfontein, Courtnall Skosan, Francois Venter, Jano Vermaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.